Vaksinering: Moet jy of moet jy nie? deur Marina Petropulos, versorg deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf, hooffoto Pexels
Stap jy in Simonstad deur die Seaforth Tuin van Herinnering, waar jy grafte van 1813 tot 1910 teëkom, is dit opvallend hoeveel kinders daar begrawe is. Die hartseer verhaal wat die grafstene vertel, laat jou besef hoe bevoorreg ons is dat die mediese wetenskap sedertdien soveel vooruitgang gemaak het.
Pokke, of smallpox, wat nog 100 jaar terug talle lewens geëis het, is intussen uit die weg geruim. Skaars 50 jaar terug het polio nog hoogty gevier. Dis op die lys van siektes wat vir uitwissing geteiken word, maar onlangs het die aantal gevalle begin opvlam weens valse gerugte in lande soos Nigerië, Pakistan en Afghanistan dat inenting heimlik daarop gemik is om vroue te steriliseer.
Immunisering – die gebruik om ’n miniskule hoeveelheid van die kieme wat die siekte veroorsaak, per mond of deur ’n inspuiting toe te dien – spoor ’n kind se liggaam aan om teenliggaampies te vervaardig wat weerstand bied wanneer die kind met die betrokke siekte in aanraking kom. Booster shots of verdere dosisse van die vaksien is nodig om die teenliggaampies op die gewensde vlak te hou.
Lees ook: Wat ouers moet weet van die HPV-vaksien
Voor geboorte
Voor geboorte word die weerstand wat die ma teen siektes opgebou het outomaties na die baba oorgedra. Borsmelk verskaf ook ’n mate van beskerming, maar dit verdwyn binne ’n paar maande en is minder doeltreffend as ’n kind se eie, aktiewe immuunrespons.
Die tydsberekening van inentings word fyn beplan sodat dit toegedien word wanneer die risiko vir die kind die grootste is. Dit neem ook die vermoë van die baba se liggaam om doeltreffend te reageer in ag. Immunisering dek siektes soos witseerkeel, meningitis, longontsteking, polio, masels, ensovoorts – siektes wat ’n uiters skadelike uitwerking kan hê.
Lees ook: Met liefde gemaak: Angel Gowns vir kinders wat kort voor of na geboorte sterf
Is vaksinering ’n goeie ding?
Die aantal inentings wat kinders kry, het die afgelope vier dekades toegeneem. Boonop kan vaksiene vir ses of meer siektes op een slag toegedien word. Dis te verstane dat ouers wonder of dit ’n goeie ding is. Hulle vra dikwels of
- dit ’n kind se immuunstelsel sal verswak of oorlaai;
- hulle dit eerder later moet laat doen;
- hulle ’n alternatiewe roete moet inslaan.
Die rede hoekom vaksiene nie ’n kind se immuunstelsel op dieselfde manier as blootstelling aan die siekte oorweldig nie, is dat die “kieme” in die vaksien gemodifieer is. Verder kan ’n kind se immuunstelsel ’n groot aantal uitdagings akkommodeer wanneer die produksie van teenliggaampies in reaksie op vaksiene ter sprake is. Elke milliliter bloed bevat tien miljoen witbloedliggaampies, genoeg om ’n geraamde 10 000 vaksiene wat tegelyk toegedien word, te hanteer. Die aantal antigene – die bestanddele in vaksiene wat die immuunstelsel aanspoor om teenliggaampies teen ’n siekte te vervaardig – het ook deur die jare dramaties afgeneem.
Sommige ouers vaksineer nie hulle kinders nie in die hoop dat die effek van algemene “trop-immunisering” (herd immunisation) hulle sal beskerm. Ander ouers glo dis beter dat die immuunstelsel op sy eie ontwikkel, sonder immunisering, of om immunisering uit te stel tot die kind ouer is.
- Sover dit trop-immunisering aangaan: hierdie uitkyk is kortsigtig, omdat trop-immuniteit ondoeltreffend raak sodra die aantal kinders wat nie ingeënt word nie, ’n kritiese getal bereik.
- Wat die ontwikkeling van ’n baba se immuniteit op eie stoom betref, spreek die feit dat drie miljoen kinders steeds elke jaar sterf aan siektes wat deur vaksinering voorkom kan word vanself.
- Om vaksinering uit te stel in die geloof dat ’n ouer kind teen “moontlike skade” bestand sal wees, is nie ’n geldige mediese rede nie, hoe goed dit ookal bedoel word.
Lees ook: Die 5 inentings wat jy as volwassene moet kry
Die kwessie van outisme
Die gevoeligste kwessie rakende die MMR-vaksien (teen masels, pampoentjies en rubella) is waarskynlik of dit outisme veroorsaak. Dis begryplik dat ’n toestand soos outisme ouers sal aanspoor om ’n oorsaak vir daarvoor te vind. Die teorie dat die MMR outisme veroorsaak, het ’n hupstoot gekry toe die hoogaangeskrewe mediese joernaal, die Lancet, in Februarie 1998 in Brittanje ’n studie gepubliseer het wat hierdie aanspraak gemaak het. Dr Andrew Wakefield, Lancet, en mede-skrywers by die Royal Free Hospital and Medical School in Noord-Londen het beweer dat enkeltoedienings van vaksienes (single shot vaccines) veiliger is en dat die drie-in-een MMR ernstige probleme veroorsaak. Dr Wakefield het egter nie genoem dat hy agt maande tevore ’n patent vir sy eie enkeltoediening-vaksien probeer registreer het nie.
Hierdie studie is ontmasker nadat daar bewys is dat dr Wakefield se data vals was en dat hy £435 643.00 as fooie sowel as £3 910.00 vir uitgawes ontvang het van die prokureurs wat probeer bewys het dat die MMR onveilig was. Hierdie uitbetalings het deel gevorm van ’n bedrag van £3,4 miljoen van die regshulpfonds wat verskaf is aan die dokters en wetenskaplikes wat gewerf is om dr Wakefield se regsgeding te ondersteun.
Die Lancet het hulle sedertdien van die navorsing gedistansieer en om verskoning gevra. Andrew Wakefield, wat die navorsing aan die gang gesit het, is in Februarie 2010 skuldig bevind aan ernstige mediese wangedrag, met meer as 30 bewese aanklagte teen hom. In dieselfde jaar is hy verbied om in die Verenigde Koninkryk as ’n mediese dokter te praktiseer. Mnr. Wakefield woon nou in Texas in die VSA.
Lees ook: Laat gaan en laat groei jou kind
Verdere navorsing
Sedertdien het navorsers in Japan, Kanada, die Verenigde Koninkryk en die VSA ondersoeke met tienduisende kinders onderneem in ’n poging om ’n verband tussen die MMR-vaksien en outisme te vind, maar nog geen bewyse van ’n skakel is gevind nie. Moontlike skakels met enterokolitis, abnormale immuunrespons en blywende maselinfeksie is ondersoek, sonder bewyse van enige verband.
Weens immuniserings wat oorgeslaan is, het masels weer kop uitgesteek. Dis ’n ernstige siekte en kan komplikasies soos longontsteking, harsingontsteking, breinfunksioneringsprobleme en chroniese longinfeksie tot gevolg hê. Dit verlaag ook die liggaam se weerstand teen siektes en maak kinders meer ontvanklik vir tering en ander siektes. Subacute sclerosing panencephalitis (SSPE) wat ’n kind geleidelik alle funksies kan laat verloor, kan jare lank na ’n masel-aanval voorkom.
Navorsingstudies het onteenseglik bewys het dat immunisering doeltreffend werk om aansteeklike kindersiektes te voorkom.
Lees ook: Kommunikasie tussen jou en jou kind