Spieëltjie, spieëltjie … Wat jy oor liggaamsdimorfiese steurnis moet weet deur Cornel Dunn. Hooffoto: pexels
Karlien* is ’n aantreklike, vyftigjarige vrou en ouma van drie. Sy het die afgelope paar jaar reeds ses kosmetiese operasies ondergaan. En sy bly ongelukkig oor haar voorkoms.
“Ek onthou dat ek van my dogtertjiedae af lelik gevoel het. Ek is die oudste van twee dogters. My kleinsus het die skoner gene geërf. Sy is feetjiefyn met ’n soel vel en lang, donker hare. Ek daarenteen, het ’n groter beenstruktuur, rooi krulhare en baie sproete. Mense sou dikwels opmerkings maak oor hoe baie ons twee verskil. Boonop het ek die grootste deel van my lewe met my gewig gesukkel.
“Op universiteit het ek anoreksie ontwikkel en weke in ’n kliniek deurgebring. Net toe ek dink ek wen, toe verloor ek! Op vyftig sukkel ek steeds met my eetstoornis. Dinge het uitgekring toe ek vir die eerste keer plastiese chirurgie ondergaan het. Eers die oë, toe ’n tummy tuck en later ’n volle gesigsontrimpeling. Steeds het die euforie my ontglip … ”
“Daar is net een spieël in my huis – bokant my wasbak. Geen vollengte spieëls word in my blyplek toegelaat nie. Party dae staan ek voor my kas en voel dat geen kledingstuk wat my gister gepas het, vandag sal pas nie. Ek verdrink my in los broeke en los hemde. Ek honger my uit en gaan elke dag gim toe. Om te grimeer is nog ’n berg om te klim. Ek sien my gesig van naby en dis nie vir my lekker nie. ”
“Ek is voortdurend op die Internet op soek na raad en nuwe maniere om my grimering aan te wend. Hoe maak jy jou halfmaangesig skraler, jou groot neus kleiner?”
Karlien het besluit om ’n kliniese sielkundige te gaan spreek – met groot sukses, en kry nou ook angsmedikasie.
*Skuilname is gebruik
Lees ook: Jy mág sê jy’s mooi!
’n Kliniese sielkundige aan die woord oor liggaamsdimorfiese steurnis
Ons het dr. Hanru Niemand, ’n kliniese sielkundige, oor liggaamsdismorfiese steurnis uitgevra:
Wat is liggaamsdismorfiese steurnis?
Dié versteuring (body dysmorphic disorder), word gekenmerk deur iemand se beheptheid met “defekte” in sy voorkoms. Dié sogenaamde defekte is klein, skaars merkbaar vir ander, of selfs afwesig. Dis soms moeilik om die steurnis te diagnoseer as dit met gewigskwessies verband hou, want die beheptheid gaan dikwels met ’n eetsteuring gepaard.
Mense kan behep wees met iets soos die vorm van hul ore, hande, voete, of die grootte van hul neus. Sommige mense, meestal mans, kan ook behep wees met hul spiere, wat hulle kan dryf om oorboord te gaan met liggaamsbou-oefeninge. Min mense is heeltemal tevrede met hoe hulle lyk, daarom moet die beheptheid klinies beduidende emosionele ongemak veroorsaak voor liggaamsdismorfiese steurnis (LDS) gediagnoseer kan word.
Dit beteken mense bestee uitermate baie energie en tyd aan kommer oor hul voorkoms en sal tot uiterstes gaan om die defek reg te stel, soos deur oordadige plastiese chirurgie. Onthou, om plastiese chirurgie te kry maak nie noodwendig van iemand ’n LDS-lyer nie. Trouens, LDS kan by net sowat 8% van pasiënte wat plastiese chirurgie ondergaan, gediagnoseer word.
Kom jy die steurnis dikwels teë?
Nee, dit is ’n betreklike skaars versteuring, met ’n voorkoms van sowat 2% in die algemene bevolking, vergeleke met iets soos major depressie waarvan die voorkoms oor lewensduur sowat 15% is.
Wanneer begin die versteuring oor die algemeen?
Gewoonlik in die tienerjare. Van daar af is die verloop dikwels chronies, so die steurnis kan by pasiënte van enige ouderdom voorkom.
Wat van mense wat ouer word en nie meer tevrede met hul voorkoms is nie?
Namate mense ouer word, is daar natuurlik meer dinge om oor ontevrede te wees. Maar die definisie van LDS sluit hier-die normale mismoedigheid oor veroudering en jou voorkoms uit.
Hoe beïnvloed gewig LDS?
Iemand met LDS kan met gewig behep wees, maar is dikwels ook met ander liggaamsdele behep. Verder gaan ’n intense beheptheid met gewig gewoonlik gepaard met ewe intense pogings om gewig te verloor of maer te bly. In so ’n geval sal jy eerder ’n eetsteurnis diagnoseer.
Is daar ’n verband tussen LDS en angs?
Daar kan ’n noue band wees omdat hulle in dieselfde selfbeeld en wêreldbeeld gewortel is. Sou jy glo dat jy nie goed genoeg is nie en dat die wêreld ’n ongenaakbare plek is waar mense se oordeel besonder fel en oppervlakkig is, kan dit tot sosiale angs aanleiding gee. Dit kan dan ook gebeur dat iemand sy selfbeeldprobleme as ’t ware aan een liggaamlike defek haak. Die betrokke liggaamsdeel word dan by wyse van spreke ’n simbool van alles waaraan hy tekort skiet.
Wat is die verskil tussen anoreksie en LDS?
By eetsteurings soos anoreksie ly pasiënte ook aan ’n beheptheid met voorkoms, maar die defekte in voorkoms is uitsluitlik met betrekking tot gewig en vet-wees. In anoreksie se geval gaan die beheptheid oor in ekstreme gedrag om gewigsverlies te bewerkstellig.
Speel iemand se verlede ’n rol?
Ja, die verlede speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van LDS omdat vorige ervarings hul self- en wêreldbeeld vorm. Verder kan iemand ook sy of haar ouers se gedrag naboots. As Ma of Pa ook behep was met voorkoms, of besonder klem gelê het op die kind se voorkoms, kan groot dele van die selfbeeld in liggaamlike voorkoms belê word.
Hoe groot is hierdie probleem in Suid-Afrika?
Ons aanvaar die voorkoms is ruweg dieselfde as die internasionale koers, dit wil sê so 2%. ’n Onlangse studie wys die voorkoms onder studente aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit is sowat 5%.
Kan hierdie probleem tot selfdood lei?
Potensieel kan dit tot selfdood lei omdat dit depressie kan veroorsaak, wat op sy beurt ’n potensieel lewensgevaarlike siekte is.
Hoe behandel jy LDS?
LDS, soos baie ander geestesongesteldhede, word ten beste behandel deur ’n kombinasie van medikasie en psigoterapie. Ek gebruik gewoonlik ’n kognitiewe gedragsterapiebenadering, wat op pasiënte se gedagte- en gedragspatrone fokus.
Is hospitalisering nodig?
Nee. Maar as die persoon ook aan depressie of ander gemoedsteurings ly (soos dikwels die geval is) en laasgenoemde versteuring is ernstig genoeg, word hospitalisering oorweeg.
Dink jy die media het ’n invloed op dié steurnis?
Die media stel ’n ideale liggaamsbeeld voor: modelle, of aktrises is dikwels maerder as die tipiese vrou in die alledaagse lewe, hulle het perfekte tande, neuse, ore … Sosiale media kompliseer dinge verder. Nou is dit jou vriende wat altyd goed lyk (jy sal mos nie ’n onvleiende foto plaas nie). Skielik is dit nie ’n aktrise of model wat beter as jy lyk nie, maar ’n regte, egte mens. Kortom, die media en sosiale media maak dat ons onrealistiese en onregverdige maatstawwe aan ons voorkoms stel.
Wat is die rooi ligte wat aandui dat iemand dalk aan hierdie steurnis ly?
’n Mens moet maar oppas vir selfdiagnose, maar as jy voel jy bestee onnodig baie energie aan kommer oor jou voorkoms, is dit ’n goeie idee om ’n geestesgesondheidspraktisyn soos ’n sielkundige of psigiater te spreek.
Jy sal dalk nie aan die diagnostiese kriteria voldoen nie, maar dis steeds ’n goeie idee om perspektief oor jou bekommernisse te kry. Verder is dit goed om op te let hoe jy komplimente hanteer: Neem jy dit ter harte, of sê jy iets soos: “Hulle sê dit maar net om my goed te laat voel”? As niks of niemand jou kommer oor jou voorkoms kan besweer nie, is dit dalk tyd om hulp te soek.
Wat kan ouers doen om te keer dat hul kinders in hierdie strik val?
Ouers moenie te veel klem op voorkoms lê nie. Wanneer dit kom by dieet en oefen, moet die klem eerder op die kind se gesondheid wees, en die motivering vir goeie eetgewoontes en oefening moet ook so aan die kind oorgedra word. Bowenal moet jy seker maak jou kind se selfbeeld lê nie net in voorkoms opge-sluit nie: daar is baie aspekte van ’n mens se lewe wat as bron van selfwaarde kan dien.
Is medikasie ’n opsie?
Ja, beslis. Hiervoor moet iemand by ’n psigiater aanklop.
• Dr. Hanru Niemand: 021 976 6994.
Wat sê ’n rekonstruktiewe en plastiese chirurg oor ligaamsdimorfiese steurnis?
Ons het dr. Francois Duminy, ’n rekonstruktiewe en plastiese chirurg, ook oor die steurnis uitgevra:
Hoe lank praktiseer jy al as ’n plastiese chirurg?
Ek is reeds veertig jaar ’n mediese dokter, waarvan ek vir 27 jaar in plastiese en rekonstruktiewe chirurgie praktiseer.
Wat is jou definisie van liggaamsdismorfiese steurnis?
Dit is ’n abnormale obsessie oor ’n klein anatomiese defek wat vir ander moeilik waarneembaar is. Mense kan ander simptome en gedragsafwykings toon wat in ’n deeglike ondersoek aan die lig sal kom.
Plastiese chirurge sien daagliks mense wat ongelukkig oor hul voorkoms is. Die meeste van hulle sien iets aan hul anatomie waarmee hulle nie tevrede is nie – dikwels vanweë die verouderingsproses. Hulle besluit dan om dit reg te stel – dis ’n praktiese besluit sonder enige obsessie.
Gelukkig val die meeste van my pasiënte in hierdie groep. Selfs vir hulle is dit ’n prosedure wat nie ligtelik opgeneem word nie. Buiten die finansiële implikasies, sal hulle ook ná die operasie fisieke ongemak ondervind. Die besluit word deeglik bespreek en oordink.
Hoe dikwels sien jy pasiënte met LDS?
Soos ek gesê het, dit is in die minderheid, maar ek bly bewus daarvan dat dit dalk kan opduik. In ’n ondersoek kan ek moontlik ’n besonder intense behoefte by die pasiënt bespeur. Dit gebeur veral wanneer ek sukkel om die defek te sien waarna die pasiënt verwys.
Hoe hanteer jy ’n pasiënt met hierdie afwyking?
Elke pasiënt is geregtig op sy mening, of dit nou gegrond is op onrealistiese verwagtinge of nie. Dit is gewoonlik vergeefs en onsinnig om hulle te probeer oortuig dat hul waarneming foutief is.
Tog is my mening belangrik en moet gerespekteer word. Gewoonlik kan ek die pasiënt oortuig dat chirurgie onnodig is. Elke behandeling moet gebalanseer word tussen positiewe voordele en potensiële risiko’s. Die voordele moet die risiko’s oorskry voor enige prosedure uitgevoer word.
Kry jy versoeke wat jy weier?
Ek sal nooit opereer as ek voel dat die risiko’s groter as die voordele van die prosedure is nie. Ek sal enige tyd ’n gesigsontrimpeling onder lokale verdowing doen op ’n vyftigjarige vrou wat hangwange ontwikkel. Tog sal ek nie dieselfde operasie op ’n vrou met hart- of borskwale doen nie.
Het jy raad vir mense wat plastiese chirurgie om die verkeerde redes oorweeg?
Maak seker jy en die chirurg gesels in diepte oor die moontlike risiko’s van die prosedure en of dit die moeite werd is. Wees eerlik oor jou behoeftes, gesondheid en gewoontes. Met die hulp van die chirurg kan al hierdie inligting opgeweeg word. Indien jou redes verkeerd is, moet die prosedure liefs vermy word. Wees dankbaar dat jy dit betyds besef het en dat jou chirurg jou belange op sy hart gedra het.
• Dr. Francois Duminy: 021 683 3048
Lees ook: 4 dapper stappe wat jy nou kan neem om gelukkiger te wees