Jou werk: 10 dinge wat alle goeie bestuurders moet weet deur Anet Schoeman. Foto’s: pixabay
Mense bedank nie ’n werk nie, hulle bedank ’n bestuurder, word soms spottenderwys gesê. Maar dis waar. Enige onderneming, groot of klein, weet hoe frustrerend dit is om bekwame mense te verloor. As mense bedank omdat ’n gehate of onbevoegde baas hul lewe versuur, móét ’n onderneming aandag daaraan gee.
1. Die beste werkers is nie altyd die beste bestuurders nie
“Ons praat in die sakewêreld van die Peter-beginsel,” sê dr. Adri Drotskie, direkteur van die MBA-kursus van die Henley-sakeskool in Johannesburg. “Dit behels dat iemand bevorder word tot sy vlak van onvermoë. Soms word iemand bevorder uit sy posisie van kundigheid na ’n bestuursposisie waarvoor hy nie die vaardigheid of ervaring het nie.”
As jy ’n uitstekende pianis is, beteken dit nie dat jy ’n goeie dirigent sal wees, of ’n musiekskool kan bestuur nie.
“’n Suksesvolle onderneming staan op vier belangrike pilare: beplanning, organisasie, kontrole en leierskap. Tog maak vaardigheid nie van jou ’n goeie leier nie. ’n Goeie bestuurder is iemand wat die fyn balans tussen bestuur en leierskap bemeester het.”
As jy met ’n ysterhand regeer, gaan jy vir seker die eerste drie pilare sterk hou, maar as leierskap ontbreek, gaan jy nie die beste uit jou werknemers kry nie. Boonop is die kans groot dat baie van hulle uit frustrasie gaan bedank.
Lees ook: Ses maniere hoe jy jou onderneming van kuberkrakers kan beskerm
2. Fokus op ’n nuwe benadering tot bestuur
Adri onderskei tussen hiërargiese bestuur en sirkelbestuur.
“Ouer maatskappye gebruik nog die hiërargiese stelsel wat meer bestuur-gedrewe is, terwyl die nuwe benadering meer deur leierskap gedryf word. Waar die hiërargiese bestuur ’n baas-en-Klaas ingesteldheid het, werk sirkelbestuur op die grondslag dat almal in die proses inkoop. Almal werk saam aan ’n oplossing.
Hoe kry jy dit reg? Werkwinkels waar mense eerlik met mekaar is en hul sterk en swak punte erken, help met vrymoedigheid en respek tussen mense.
As werknemers ’n goeie verhouding met ’n bestuurder het en die vrymoedigheid het om probleme te bespreek, kry jy goeie spanwerk wat sukses verseker. Dis oor en oor bewys dat ’n betrokke leier veel meer uit werknemers kry as ’n onwrikbare baas.
Die ontwikkeling van leierskap is een van die groot tekortkominge van ons huidige skoolstelsel, sê Adri. “Die meeste mense doen vir die eerste keer leierskapontwikkeling as hulle as ’n bestuurder aangestel word. Dis iets wat op skool aandag moet kry.”
3. Balans in ’n bestuursposisie is belangrik
“Hoewel dit goed is wanneer almal op dieselfde vlak aan ’n projek of probleem werk, moet jy weet waar om die streep te trek. As dit kom by dissiplinêre optrede, moet jy jou bestuurderhoed opsit en ferm optree. Dan help dit nie jy probeer almal se pel wees nie.”
Dis veral moeilik om ’n leier te wees as jy onlangs bevorder is en jy bestuur nou die mense wat gister jou koffiemaatjies was. Jaloesie kan ook klippers in jou pad rol.
Hoe hanteer jy dit? Dis belangrik om met elkeen ’n gesprek te hê en hulle te oortuig dat jy die posisie verdien het, sê Adri.
“Maar oopkop-bestuurders kan net soveel by hul werknemers leer. Verduidelik dat hoewel jy die bestuurder is, jy steeds in ’n posisie is waar jy graag by die span wil leer. Daarvoor moet jy ontvanklik en volwasse wees.”
Lees ook: Sakevroue in senior-posisies
4. Hoe los jy probleme op?
Moenie onmin en probleme onder die mat invee nie. “Ek gaan na die persoon toe wanneer iets verkeerd loop en pluis dit dadelik uit. Moenie wag en hoop dat die kwessie homself gaan oplos nie. Jou uitgangspunt moet wees dat julle saam na ’n oplossing soek, nie dat jy die persoon inroep om haar te roskam en straf nie.
“As mense in my span verskil, roep ek albei partye in en tree as ’n bemiddelaar op. As geskille op hierdie manier opgelos word, behou mense respek vir mekaar.”
Lees ook: Werk jy lekker?
5. Maak die regte aanstelling
Die pad na goeie bestuurders is weldeurdagte aanstellings.
Grond die aanstelling op ondervinding en leierseienskappe en nie net op vaardighede nie. Die briljante ingenieur is nie noodwendig ook ’n goeie leier nie. Die regte aanstelling gaan bydra tot beter spanwerk en benutting van menslike hulpbronne.
6. Leierskap kán aangeleer word
Sommige mense is gebore leiers, maar dit beteken nie hulle is die enigstes vir wie ’n bestuurpos beskore is nie. Die goeie nuus is dat leierseienskappe aangeleer kan word.
Maatskappye behoort betyds in bestuurskursusse vir werk-nemers te belê. ’n MBA-kwalifikasie is gewild onder spesialiste op hul gebied. Die gemiddelde ouderdom wanneer mense by die Henley-sakeskool vir dié kursus inskryf, is 38. Dis gewoonlik wanneer mense middel- en topbestuursposisies beklee.
Tog is daar ook heelwat intreekursusse soos Foundations of Management wat jongmense kan doen sodra hul studies voltooi is.
Maatskappye kan ook heelwat doen om werknemers in hul posisie te ontwikkel. Daar behoort induksieprogramme te wees wat die maatskappy se kultuur en strategie uiteensit en ook verduidelik wat dit verg om bevordering te kry. Maak seker werknemers is bewus van opleidingskursusse wat hulle kan verbeter.
Prys vir goeie werk is net so belangrik soos opbouende kritiek as iets skeefgeloop het. Terugvoer help werknemers om uit hul foute te leer en so word hulle bemagtig om hul doelwitte te bereik.
7. Vrou in ’n manswêreld?
Vroue reken soms dat hulle ’n manlike persoonlikheid moet aanneem om suksesvol in ’n bestuursposisie te wees. Hokaai, sê Adri. “Jy word aangestel omdat jy ’n stel unieke persoonlikheidseienskappe het. Vroue se unieke benadering tot ’n probleem is juis hul geheime wapen. Vroue het gewoonlik meer meelewing met mense, en ek glo jy kan sag wees, maar terselfdertyd ferm. As jy getrou aan jouself bly, dwing jy respek af. Dan respekteer mense jou vir wat jy kan vermag en nie vir watter geslag jy is nie.”
8. Bestuurders moet kreatief dink
Dr. Babita Mathur-Helm, senior lektor in organisatoriese transformasie en ontwikkeling aan die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool, sê baie bestuurders leer net om kop bo water te hou en word nooit werklik ’n doeltreffende leier nie.
“Die meeste bestuurders is ondoeltreffende leiers en dit lei weer tot ongelukkige werknemers en gereelde personeelomset. Sy sê die grootste verskil tussen ’n baas en ’n leier is dat die meeste base op prosesse, beheer en stabiliteit fokus en instinktief probeer om probleme vinnig op te los voordat hulle insig in die probleem het.”
“Daarteenoor verdra leiers wanorde en ’n gebrek aan struktuur en is bereid om oplossings te vertraag om kwessies meer om-vattend te verstaan. Daarvoor is kreatiewe denke nodig.”
9. Bemagtig jou werknemers
“Leiers identifiseer die sterk punte van werknemers en wend dit aan, terwyl hulle terselfdertyd help om hul swakker punte te verbeter. Hulle skep ook ’n omgewing waar werknemers vir hulself kan dink en probleme onafhanklik kan oplos. ’n Doeltreffende leier probeer om haar span by te staan sodat hulle produktiewer kan wees, eerder as om skuld uit te deel wanneer dinge skeefloop.
As ’n werknemer ’n probleem het en sy lynbestuurder om hulp vra, is dit nie omdat die werknemer noodwendig onbevoeg voel nie – sy is dalk net onseker oor watter benadering om te volg. Hier sal ’n doeltreffende leier haar bemagtig om ’n oplossing te kry, eerder as om bloot voor te skryf wat gedoen moet word.”
10. Gee jou werknemers ruimte
Die vinnigste manier om van die nuwe generasie ontslae te raak is om hulle te mikrobestuur, sê Kylie Wright-Ford in haar boek The Leadership Mind Switch. “In enige generasie kry jy mense wat ’n broertjie dood het aan mikrobestuur. Maar Generasie Y byt nie vas in ’n slegte werk nie. Hulle stem met hul voete teen die onbevoegde bestuurder.
Hoekom bedank mense onder mikrobestuur?
- Dit inhibeer werknemers as hulle voel dat hulle heeltyd dopgehou word.
- Dit belemmer moraal. Alle mense, maar veral die nuwe generasie, wil bemagtig word. Dis jou rol as leier om hul potensiaal te ontsluit.
- Wees ’n leier eerder as ’n ghoeroe. Skep ’n gesonde kanaal vir kommunikasie, eerder as om oor mense se skouers te kyk wat hulle doen. Deursigtigheid keer misverstande.
- Te veel prosedures, prosesse en vergaderings strem die vloei van denke en vertraag eerder as versnel ’n projek. Skep duidelike besluitnemingsregte op elke vlak, maar los die leisels effens oor minder belangrike goed.
- Mikrobestuur kan die werknemer én die baas laat uitbrand. Albei is geneig om langer ure te werk, is gespanne en angstig en sukkel om by die huis af te skakel.
Hooffoto: Jopwell vir Pexels
Lees ook: Vra só vir ’n verhoging