Windswael: Alleenvlug deur Martie Swanepoel. Hooffoto: Martie Swanepoel
In die drie weke wat ons by ons strandhuis op Munster was, het ’n swaeltjie homself elke aand teen laatskemer op die stoep tuisgemaak. Net hy.
Dan bekyk hy ons. Ons oë op die sonsondergang se pastelle, en syne op ons. Sy lyfie styf teen die muur vir die nag. Ongestoord deur die geselskap op die stoep.
Vincent Carruthers se The Wildlife of Southern Africa vertel my hy is ’n Greater Striped Swallow. Mens kan die strepies op sy onderlyf duidelik teen die wit stoepmuur sien. Jy hoor sy “chissik-chissik” as hy eers ’n paar keer oor die stoep swiep voor sy sit.
Kort voor die herfs, waarin sy spesie gereed maak vir hul winterreis, is hy alleen op die stoeplig. Hy maak nie plan om nes te bou nie.
Swaeltjies is swerm-voëls. Hulle dwarrel en tol bedags oor die tuin en hy vlieg waarskynlik saam. Maar dan kom hy alleen na sy skuilplek vir die nag.
Lees ook: Windswael: “’n Tiet om te kom en ’n tiet om te gaan”
Oorkant ons strandhuis is die Skiboot-klub. Drie keer per week is dit ’n bymekaarkomplek. Dan sit almal op die balkon met ’n gin en tonic en kyk oor die see. Die plaaslike swerm. Hulle gesels oor wie se honde het nou weer in die wildpark die bokke gaan jaag en hoekom die water nou weer af is. Swermdinge.
Afgetredenes met ’n leeftyd van worstel deur spitsverkeer, kantoorpolitiek en huisverbande agter hulle.
Elkeen met sy ginnetjie en sy storie.
Huistoegaantyd vlieg elkeen na sy eie nes. Baie alleen.
Jy sien dit aan die spore vroegoggend op die strand. Dié wat langs mekaar loop. Groepe spore. Spore van ’n baas en sy hond. En alleenspore.
Myne loop strand-op tot daar waar die Hotnotsvye pers kolle teen die duine maak. Tussen die skuimlyn van die brander en die opdrifsels van die hoogwater.
Soms gee die see my ’n stukkie gekleurde glas. Of ’n ongeskonde cowrie. ’n Mooi stuk perlemoen. Partykeer is die skat ’n plat klippie wat met jare perfek geskuur is.
Al langs die hoogwaterlyn kry jy dit tussen die drifsels. Uitgespoeg en die onopgeïstes weer teruggetrek na die dieptes.
Die see is suinig met haar skatte en sy leer jou fyn kyk. Ragfyn koraal, die valdeurtjie van ’n alikreukel. As jy gelukkig is, ’n heel gesiggiester.
Vondse van alleentyd langs die see.
Jy vind dit selde as jy in ’n swerm vlieg. Ook nie as jy vergeet het waar die kern van jou menswees is nie. Daai plekkie wat net jy die beste ken. In jou diep alleenheid is daar iets wat jou help om die mikro-klein mooiheid raak te sien.
In die fyngemaalde spoelsels kry jy soms stukkies blou porselein. Oorblyfsels van die São João wat in 1552 hier naby gestrand het. Skerwe uit die Ming-dinastie. Al hoe skaarser en kleiner. Maar hulle is daar. Jou oog moet net leer kyk.
Jy sien dit eintlik net raak as jou spoor ’n enkelry stap.
*Onderskrif
Ouma Desirée Joubert het in 2000 die boek Munster and its Pioneers gepubliseer. Daarin skryf sy onder meer van al die Portugese skepe wat sedert 1552 teen die verre Suidkus van Natal gesink het. Hierdie skepe het dikwels porselien uit die Yuan- en Ming-dinastië vervoer. Stukkies van die porselein is gewilde skatte vir strandlopers. Ouma Desirée is ’n jaar gelede op 90 oorlede. Sy het haar kinders die wonders van elke lewende wesentjie in die poele langs die kus geleer. En hulle ook geleer om uit te kyk vir die klein skatte.