Ses maniere hoe jy jou onderneming van kuberkrakers kan beskerm deur Anet Schoeman. Hooffoto: iStock/Anchiy
Ligloop vir kuberkrakers
Natuurlik gaan dit nie met jou gebeur nie, dink jy. Kubermisdaad fokus sekerlik op groot ondernemings met ’n groot omset en stywe bankbalans.
Nee, navorsing onder klein en medium ondernemings toon dat 61% van hulle in 2017 ’n kuberaanval gehad het – 6% hoër as die vorige jaar. Datamisdaad het ook tot 54% toegeneem.
Lees ook: Wees veilig aanlyn
Wat kan klein ondernemings doen?
1 Sekuriteit kos geld
Maak kubersekuriteit jou prioriteit en verstaan dat jy geld hieraan moet bestee.
2 Pasop vir lospryse
Die eis van ’n losprys kom ook algemeen voor, en omdat die krakers gewoonlik kleiner bedrae eis, betaal 34% van slagoffers dit, sê Oliver Potgieter van Alto Africa.
3 Lig jou werknemers in
Maak seker jou werknemers maak geen vreemde e-posse oop nie, veral nie goed soos “klik hier vir gratis koffie” of “aflewering van pakkies” nie.
4 Onthou om te stoor!
Maak seker dat alle inligting gereeld gestoor word sodat losprysdreigemente jou nie lamlê nie.
5 Bly op datum
Dateer jou rekenaars se sekuriteitstelsels gereeld op.
6 Fokus op veeldoeligheid
Kry ’n veeldoelige sekuriteitstelsel wat verseker dat jou e-posse vertroulik is, data gereeld stoor en dit moontlik maak om die data maklik terug te kry sou iets gebeur.