Maak só gereed vir jou Valentyns-afspraak deur Corné Greeff. Hooffoto: Pixabay
Maskers
Bederf jouself en lê vir ’n paar minute op jou rug met ’n masker op jou gesig en strelende musiek op die agtergrond. Jy kan dit sommer doen voor jy gaan slaap!
#rrWenk: Dit is oor die algemeen goed om maskers deel van jou skoonheidsroetine te maak.
#rrWenke
- Maak seker jy gebruik ’n masker wat jy al voorheen gebruik het sodat jou vel nie uitslaan nie
- Reinig altyd jou vel voor jy die masker aanwend
Lees ook meer oor Lappiesmaskers hier
Kry die perfekte tuismanikuur:
Elana Jooste, naelspesialis vir BellaMia Specialist in die Strand en ambassadeur vir Sparkle Cosmetics, gee raad:
- Hou jou naellakbotteltjies veral by die nek mooi skoon sodat daar nie lug ingaan en die naelverf dik word nie.
- Rol die botteltjies tussen jou hande om die kleur mooi te meng. As jy hulle skud, kan dit die verf dik maak.
- Maak jou naels met ’n alkohollappie skoon voor jy ’n basislagie aanwend. Die lagie laat die kleur langer mooi lyk. Morgan Taylor React Base Coat is Elana se gunsteling.
- Wend twee dun kleurlagies aan en onthou om die voorpunt ook ’n strepie te gee om die kleur te seël.
- ’n Goeie bolaag gee mooi glans en laat die manikuur langer hou.
- Laat die lagie vir minstens agt tot tien minute droog word. Hoewel dit “touch dry” sal wees, moet jy liefs nie jou naels teen iets stamp of in jou handsak krap nie.
Lees ook meer oor mooi naelkleure vir die somer
Sit jou beste voetjie voor
Sagte, versorgde voete sonder skurwe hakke is ’n moet voor jou Valentynsafspraak, veral as jy sandale dra. Spaar tyd en wend jou gesigmasker aan terwyl jy jou voete bederf.
Lees ook: Toets jouself: Wat moet jy vir Valentynsdag dra?
- Week jou voete:
Gooi warm water en Epsom-sout in ’n kommetjie of groot genoeg bak (waarin albei jou voete sal pas) en week jou voete vir 5-10 min. daarin.
- Skilfer en skuur jou voete af
Gebruik ’n afskilferaar terwyl jy jou voete masseer en raak ontslae van al die dooie velletjies wat jou voete skurf laat voel.
Maak jou eie afskilferaar by die huis met Janet Stewart van Pink Cosmetics se resep:
Bestanddele:
- 80 g klapperolie
- 100 g druiwepitolie
- 2 eetlepels uitgedrukte suurlemoensap
- 4 eetlepels rou heuning
- 200 g bruinsuiker
- 2 opgehoopte teelepels laventel, roosblare of jasmynbloeisels
- 1 teelepel laventel of essensiële roosolie
Metode:
Smelt die klapperolie in ’n glasbak wat op ’n kastrol kookwater pas.
Meng die druiwepitolie, suurlemoensap en heuning by die gesmelte klapperolie en laat dit afkoel voor jy die suiker bygooi en alles meng.
Gooi die blomme en essensiële olie laaste by en meng.
Hou die afskilferaar in ’n fles en gebruik dit binne ’n week.
Probeer om nie water in die fles te mors wanneer jy bad of stort nie.
Lees ook: Kruie vir jou voete
Gebruik ’n voetvyltjie en skuur en vyl jou voete.
Dit sal help dat minder eelte vorm en jou voete weer streelsag laat voel.
Bevogtig jou voete
Kies ’n sokkiemasker (wat serum bevat en beter bevogtig) sodat jy kan rondbeweeg terwyl jy dit aanhet; jy moet dalk nog jou uitrusting regkry en so spaar jy tyd
Smeer room aan jou bene en lyf
Bevogtig gereeld jou lyf en indien jy ’n kort rokkie gaan dra, onthou om room aan jou bene te smeer en smeer sommer aan jou arms ook.
#rrWenk: Jy kan selfs ’n room gebruik met ’n parfuum in om jou heelaand lekker te laat ruik.
Lees ook: Die mees romantiese haarstyle wat jy self tuis kan skep
#rrWenke
- Moenie ’n selfverbruiningsproduk die dag voor jou afspraak aansmeer nie, jy wil nie soos ’n gestreepte Oros-mannetjie lyk nie.
- Probeer om vir ’n paar dae voor jou afspraak produkte te vermy wat natrium bevat (souterige produkte). Natrium veroorsaak dat jou liggaam water hou, en dit kan ook jou gesig opgepof laat lyk!
- Maak seker jy slaap genoeg, want jy wil nie sakke onder jou oë hê nie. Indien dit wel gebeur: hou ‘n eetlepel onder jou oë sodat die swelling kan sak.
- Moenie voor jou afspraak enige nuwe produkte koop en gebruik nie, jy is dalk allergies en jou vel kan uitslaan of opswel.
- Indien jy parfuum aansit voor jy uitgaan, hou dit subtiel, jy wil nie jou metgesel se neus laat jeuk nie.
- Moenie vergeet om ’n sweetweerder aan te wend nie.
- Onthou, jy is mooi en besonders net soos jy is en jy hoef niemand te beïndruk nie, wees net jouself, want jy verdien die beste!