Deur Martie Swanepoel. Foto’s: Verskaf.
Talentvolle kunstenaar, Esther Engelbrecht, wie se werk van 6-9 Februarie 2019 by Dundalk-laan 133, Parkview, Johannesburg uitgestal word, hoef nie die naam van haar bekende suster, Quinne Brown, te noem om die kollig op haar te laat val nie. Sy is ’n kunstenares wat al meer opgang maak, en ja, Quinne is haar suster, steunpilaar … en beste vriendin.
Lees ook: Quinne Brown, sus Esther, en die baba
Haar sus en haar ma, Salome Gooding, en haar man, Stephan, is volgens haar die mense wat ’n groot rol speel in haar verhouding met haar kuns. “Hulle is my hoofgetuies en kampioene. Hulle het my nog altyd selfvertroue gegee en aangemoedig.”
Salome het haar van kleins af vir kunsklasse gestuur omdat sy raakgesien het dat dit iets is wat Esther geniet. “Dit was ook sy wat altyd vir my papier aangedra het, my aangemoedig het en geprys het. Dit was juis my ma en suster wat in 2004 voorgestel het dat ek my eerste uitstalling hou. My ma het net eenvoudig al my prente laat raam, haar huis leeg gemaak en almal genooi wat sy geken het – dit was nog in die dae voor Facebook.” Quinne het die hele projek bestuur en Esther was verstom deur dié twee wat dit alles laat uitwerk het terwyl syself maar bra onseker was.
“Stephan raak nooit ongeduldig oor die morsige proses wat soms die huis omkrap nie. Ook nie as ek tot laatnag besig bly in my klein ateljee nie,” vertel Esther oor haar man se ondersteuning vir haar kuns.
Haar lojale vriende en uitgebreide familiekring steun haar. Sy is gelukkig om deel van haar ma se “sisterhood” te wees. By haar ma se beste vriendin Elsa Kruger (die bekende skoonheidsredakteur en skoonheids-blogger), Elsa se ma, Nellie Kruger, en ander vriendinne het sy baie van vrouwees geleer. “Dis ’n kring vriendinne van alle ouderdomme wat my lewe lank ’n wonderlike vangnet was. Kuns en boeke is die gom wat ons klomp aanmekaar hou.”
Sy en haar ma en suster doen gereeld saam kuns, amper soos ’n kunsklub: Of dit nou verf, inkleur of sommer net om die tafel sit en wyn drink is terwyl hulle hul hartsake bespreek of die wêreld se probleme probeer oplos. “Kuns is ’n wonderlike “equaliser” en daar is niks wat mens so kan laat ontspan en tyd laat verloor nie, veral met heerlike geselskap en ondersteuning van vriendinne.”
Die proses van kuns maak en speel met verf is wat haar inspireer. Sy glo vas dat dit die een plek is waar daar geen rëels is nie.
“Ek het nie ’n spesifieke styl waarby ek hou nie, maar as ek moet kyk na wat konstant uitkom in my kuns, is dit dat ek daarvan hou om te ekperimenteer. Ek dink kleur dra soveel gewig en emosie en mens kan daarmee uiting gee aan soveel. Ek begin selde verf met ’n eindproduk in gedagte. Vir my gaan dit baie meer oor die proses. Ek is baie keer verras oor hoe ’n prent uitdraai. Ek glo in toeval en laat my daardeur lei. Die foute, of eerder interessanthede, is baie keer juis dit wat op die ou einde die prent maak. Die vryheid om te weet ek kan die hele doek net weer wit verf met PVA is wat jou vrymaak in die proses om te kan speel en eksperimenteer en dis wanneer die “magic” kan gebeur.”
As sy terugkyk na haar kuns uit elke stadium van haar lewe, dan weerspieël dit altyd die ervarings, plekke, mense en indrukke wat sy beleef het. “Dit maak my opgewonde om te ervaar hoe ’n kreatiewe proses soos kuns die brein kan reguleer of minder dominant maak.”
Sy het nooit formeel kuns gestudeer nie, maar sê sy leer elke dag terwyl sy besig is. “Daar is niks wat my so opgewonde maak as om te sien wat kan gebeur as mens die proses vertrou en dit sy gang laat gaan nie. Ek is mal oor die natuurlike terapeutiese effek wat kuns op my het en dit is seker waarom ek vir ewig daaraan verslaaf sal wees.”
Toe sy in 2012 haar eerste baba Francois (nou 6) gehad het, het sy besef sy wil haar tyd só bestuur dat sy iets doen waaroor sy regtig passievol is, juis omdat haar tyd tyd saam met haar kinders so kosbaar is. “Ek het besef dat ek meer wou verf en meer met mense wou werk, iets wat ek destyds geniet het in my pos as bestuurskonsultant by groot maatskappye.”
“Wat bygedra het, was toe ek eendag so ’n “lightbulb“- oomblik beleef het terwyl ons klomp vriendinne om die tafel gesit en kuns doen het. Ek die terapeutiese effek duidelik in die groep gesien gebeur en toe besef ek wil kunsterapie studeer.”
Dit sou haar toelaat om haar kuns uit te leef en terselfdertyd soveel as moontlik met mense te werk. “Ek het kort daarna begin om alle beskikbare kunsterapie-kursusse in Suid Afrika te voltooi terwyl ek as bestuurskonsultant aangehou werk het. Hoe meer ek oor kunsterapie geleer het, hoe meer passievol het ek daaroor gevoel.”
Sy is ook besig met haar derde jaar in sielkunde by die SACAP (South African College for Applied Psychology) sodat sy as ’n geregistreerde berader kan begin werk met kuns as ’n hulpmiddel. Dit sal haar toelaat om verder te studeer om as kuns-sielkundige te praktiseer. Sy studeer en loop voltyds klas. Dit hou haar baie besig, maar bied genoeg ruimte om smiddae by die kinders te kan wees.
“Ek het die spaarkamer omskep in ’n ateljee en dit is waarlik my “happy place”. Ek steel gereeld ’n uur iewers in die dag of oor ’n naweek, wanneer die kinders speel, om te gaan verf. My eintlike tyd vir verf is in die aand na aandete en na ek saam met man na ’n storie op televisie gekyk het. Dan slaap die kinders, die huis is rustig en ek kan, sonder om skuldig te voel, vir ure lank verf. Soms dink ek die feit dat ek so baie het om te doen, motiveer my om meer te wil verf in elke oomblik wat ek vry is.”
Haar man, Stephan, is haar beste vriend. Hulle het in 2001 ontmoet toe hulle saam aan die Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) gestudeer het. Hy het finansiële wiskunde en sy het beleggingsbestuur gestudeer. Hulle het twee pragtige seuns, Francois (6) en Andries (3).
“Ek geniet hulle so baie, en hulle inspireer vir seker my kuns. Ek kry idees by hulle en baie keer laat ek hulle help om die agtergrond vir van die skilderye te verf. Ek is dol verlief op die twee. Ons bly in Parkview, Johannesburg.”
Daar is volop kreatiewe gene in hulle familie. Haar ma was hoof van kommunikasie by Altron vir baie jare en is nou ’n vlogger van boekresensies. Haar broer is die redakteur van Escapes-tydskrif. Hulle is albei uitstekende skrywers. En dan is daar Quinne, die aktrise.
“Ek dink ek het die verfkuns by ouma Quinta geërf,” vertel Esther.
“Ek was baie bevoorreg om saam met my ouma groot te word. Sy het by ons gebly en was nie net die beste ouma nie, maar sy het my baie deur haar voorbeeld geleer. Haar hande was nooit stil nie en sy het die mooiste goed geverf, onder meer sy-serpe. Sy het naaldwerk gedoen en was altyd besig om iets te skep. Sy was nooit bang om te probeer nie. Sy is vir my die voorbeeld van hoe om voluit te leef en altyd aan te hou skep aan jou eie lewe.”
Al haar werk is te koop op haar webblad, www.artwithesther.com. Sy hou ook informele uitstallings haar huis. Jy kan op hoogte bly deur haar op Instagram en facebook te volg, of vir haar ’n e-pos te stuur aan: [email protected]