Margaret se Wêreld: “Hy is glansryk, maar hy is nie Emily Blunt nie” deur Margaret Gardiner
Ja, liewe leser, dit is ek wat glansryk by die die rooi tapyt afstap in my mooi rooi rok met my DeMarquetWorld-handsakkie aan die arm. Elke haar op sy plek. Netjies, hoor.
Oftewel, nee! Almal wat my ken, weet ek is ’n doodgewone meisie – of liewer, vrou – wat ’n uitsonderlike lewe leef. En die lewe het die manier om my voete op die aarde te hou en te sorg dat ek nie te groot vir my skoene raak nie. Dramatiese goed gebeur met my onder gewone omstandighede en vreemde dinge gebeur met my in uitsonderlike omstandighede. Ek lag, ek huil, ek probeer kalm bly, maar soms kan mens net sê: “Rêrig?”
Die oggend van die Golden Globes is ek vroeg wakker en praat met publisiteitsbeamptes oor wie wat gaan aantrek op die rooi tapyt. As moderedakteur van goldenglobes.com is dit my werk om hierdie inligting vas te stel. Dit is baie werk. Nie net is daar die sterre wat in al die kategorieë benoem is nie, maar daar is ook die aanbieders. Dan is daar ook ander sterre wat op die rooi tapyt arriveer op pad na die voorskou-partytjies. Ek weet nie altyd wie gaan kom nie en kan nie altyd daarop voorberei nie, maar ek kan my bes probeer.
Elke area van die funksie, die sitplekke, partytjies en digitale afdeling word deur verskillende afdelings bestuur en hulle is tot oor hulle ore oorlaai met werk. Om hulle so ver te kry om name aan te stuur, is byna onmoontlik. As ek eers die naam het, moet ek navorsing doen oor wie hulle publisiteit doen en hulle dan direk probeer kontak om hulle in te lig oor my taak.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Die oploop tot die Golden Globes
Ek moet ook elke ster memoriseer. Jy sal dink ’n mens behoort dadelik ’n ster te herken, maar teen die tyd dat ek op die rooi tapyt staan, werk ek op uitputtings-modus. Byvoorbeeld, ek sal weet dit is die aktrise wat in Vice en Sharp Objects gespeel het, maar wat op aarde is haar naam? Alles gebeur onmiddellik en daar is nie tyd om te vergeet nie. As een verbyglip, is jou kans verby, want nou is daar iemand anders op die rooi tapyt wat jy moet probeer onthou. Dit is ’n werk wat teen ’n ongelooflike pas onder hoë druk gedoen moet word. Dan onthou jy skielik, Amy Adams, dis die vrou van Sharp Objects! Ek het met haar ’n onderhoud gedoen vir my YouTube-kanaal.
Ek het voor die Golden Globes geweet wie sy is en toe vergeet ek skielik. Daarom memoriseer ek gesigte sodat ek hulle kan roep as hulle oor die rooi tapyt stap.
Ons gesprekke klink gewoonlik só:
Ek: Wie se uitrusting het jy aan?
Hulle: Hmmm?
Ek: Jy lyk ongelooflik, wie dra jy?
(Het jy onlangs na die name van die ontwerpers gekyk? Hulle is moelik om te spel en uit te spreek.)
Ek: Mag ek vra wie se uitrusting dra jy?
Hulle: Prabal Gurung
Ek: Dankie, en die skoene?
Hulle: Wat?
Ek: Die skoene? Wie het dit gemaak?
Hulle: Manolo Blahnik
Ek: Goed, en die juwele?
Hulle: Wat?
Ek: Jou juwele?
Hulle: O, Kunio Nasksjima en Borgioni.
Dan moet jy dit vinnig neerskryf as hulle aanstap en vinnig na die digitale span stuur, en hulle moet die spelling nagaan voor die volgende drie sterre verbystap.
Lees ook: Margaret se Wêreld: Partytjies is harde werk 😉
Die sterre beweeg teen ’n vinnige pas en ek draf agterna in vyf duim hakke (Stuart Weitzman) in ’n ontwerpersrok (dié jaar is dit Olivier Tolentino) met ’n sleep. Terwyl ek langs die rooi tapyt drafstap, trap mense my sleep raak. Mens sou dink dat ’n lang rooi sleep baie duidelik sou wees, maar alle oë is op die sterre! En net as jy ’n ster sien en vorentoe wil beweeg, besef jy jy sit vas soos ’n hond aan ’n leiband. Jy word in plek gehou deur iemand se voet.
Die ster beweeg aan en jy probeer vorentoe leun terwyl jou sleep vasgepen is. Jy draai na die skuldige om hom te vra om te beweeg, maar hy kyk nie na jou nie. Hy kyk na ’n ster wie se naam jou nou ontgaan. Wie is dit? Uhm, O, dit is 007! James Bond, uhm? Ag nee, wat is sy naam nou weer? Ek moet hom gaan vra wie hy dra.
Ek probeer wegkom van die mens wat my sleep met sy voet vaspen. “Verskoon my, jy staan op my rok.” Ek moet seker maak ek klink nie kwaad of ongeskik nie. Ek probeer hoflik wees want hy is so besig om foto’s te neem dat hy niks in die geraas hoor nie, want hy igoreer my salig, of hy ignoreer my doelbewus? Hy neem foto’s van Rachel Weisz se man. Ja, daardie deel onthou ek, maar sy naam?
“Haai,” gil ek sonder om ongeskik te klink. “Jy staan op my rok!” Hy kyk af na my rok en ek beduie na sy voet wat my vaspen. Dit terwyl my kop naarstiglik soek na James Bond se naam. Rachel Weisz se man. Die beroemde ster?
Die naam Emily Blunt spring in my kop op, maar sy naam is natuurlik nie Emily Blunt nie!
Ek buig nou al in ’n boog vorentoe want ek word geanker deur die voet wat my vaspen. Ek beweeg in die radius wat dit my toelaat. Dan trap hy weer en ek sit nog meer vas. Ek kan nou links en regs beweeg, maar nie vorentoe nie. Ek probeer oorleun in die rigting van ’n ster wat nou deur die skare opgeslurp is. Ek het uit die 90 grade posisie beweeg en sit nou vas in die 45 grade posisie. Steeds vasgepen deur die ou wat foto’s neem van die ster wie se naam ek nie kan onthou nie. Wat is sy naam? Bruce Springsteen? Ben Kingsley? Daniel Craig! Daarsy.
Ek beweeg gretig vorentoe, maar ek is steeds die hond wat aan die leiband vasgemaak is want die man het nog nie sy voet van my sleep gelig nie.
Ek: Asseblief, meneer, jy staan op my sleep!
Vreemdeling: Wat?
Ek: Jy staan op my rok. Kan jy asseblief jou voet oplig?
Hy kyk af. “O, ek is so jammer”
(Sy voet pen my steeds vas).
Hy glimlag.
“Maak nie saak nie” glimlag ek.
Ons grinnik ’n rukkie vir mekaar. “Uhm, Meneer, jou voet?”
Hy lag “O, ek is jammer.”
(Ek glimlag en beduie. Het ons nie al daardie deel gedoen nie? Is dit te veel om te vra? Lig jou voet! Daniel Craig is besig om weg te kom …)
“Ek het nie agtergekom ek staan op jou rok nie,” verduidelik hy. Met sy voet steeds op my rok. “007” beduie hy na die ster wat wegstap. Hy skud sy kop en lig sy skouers. Wie kan kan hom kwalik neem dat hy nie ’n vrou van 6 voet 5 duim in ’n rooi rok kan raaksien wat op hom gil om sy voet van haar rok te lig nie?
“Ja, ek weet, Daniel Craig,” sê ek in volle beheer asof ek spog dat ek weet wie 007 is.
“Dit is hy!” jubel die vreemdeling bly. “Ek kon vir ’n oomblik nie sy naam onthou nie.”
“Regtig?” sê ek asof ek verstom is dat iemand nie Daniel Craig se naam kon onthou nie. Nie ek nie!
Ek pluk weer aan die rok.
Hy ignoreer my beweging.
“Ek het ’n foto. Kom ek wys jou.” Hy wil my sy foon wys.
“Asseblief, Meneer, ek werk. Kan jy asseblief jou voet lig?”
“Dit is nie nodig om ongeskik te wees nie,” kom dit kwaad van hom.“Dit was nie moedswillig bedoel nie.”
Lees ook: Margaret se Wêreld: Soms het ons almal hulp nodig
Ek lig my kamera in die hoop om Daniel Craig se rug af te neem, asof sy foto op my foon my sal help uitvind wie se uitrusting hy dra.
Ek ruk aan my rok en die man lig uiteindelik sy voet.
Ek word vorentoe geskiet soos ’n koëel uit ’n geweer. Om te keer dat ek val, strompel ek vinnig vorentoe, verby die einste Daniel Craig. Ek kom regop nadat ek byna die grond getref het. Ek probeer my bostuk regskuif. En daar gaan hy!
“Daniel Craig?” prewel ek saggies en neem sy foto in refleks.
Hy hoor my nie. Hy’s reeds weg.
Hy stap in die teenoorgestelde rigting van die funksie. Hy hoef nie vandag aan die pers aandag te gee nie. Hy gaan ’n kortpad neem na die funksie en die rooi tapyt totaal vermy. Maar ek het die foto. Ek het sy naam. Ek het geen idee wie se klere hy dra nie.
Ek sug en kyk op. O ja, daar is Nicole Kidman! Kyk net daar. Háár naam kon ek onthou.
“Nicole? Nicole!” sê ek.
Sy kyk my in die oë en blaas ’n soentjie.
“Nicole, wie dra jy?” vra ek.
Lees ook: Margaret se Wêreld: 2018 in oënskou
Volg gerus Margaret se blog vir rooi rose waar sy ons vertel oor haar interessante en besige lewe. Jy kan haar ook volg op Instagram, facebook, twitter en haar YouTube-kanaal waar sy met bekendes gesels.