Ons spring weg in die pylvakjaar deur Ina Genade. Hooffoto: iStock/stefanschurr
Aan die begin van elke jaar staan ek, soos die meeste mense seker, verstom dat ons alweer by Januarie trek.
Vanjaar was dié gevoel egter in die oortreffende trap. Dalk het die buitengewoon kort Desember-vakansie daarmee te doen? Die nuwe jaar was skaars uit die wegspringblokke, toe draf ons al ’n nuwe skooljaar binne.
Volgens die herinneringe wat Facebook vandeesweek opdiep, blyk dit dat ons vorige jare nou eers boeke oorgetrek en oueraand gehou het, maar vanjaar trek ons al in week 3 van die kwartaal.
My oudste is vanjaar in graad 7. Sowaar die laaste jaar van sy laerskoolloopbaan en dit beklemtoon natuurlik net nog meer hoe vinnig tyd verbygaan.
Hy was nou die dag ’n kaalvoet haasbekkie met ’n kordate kuifie en oorgroot skooltas en nou staan hy in sy nommer 7-skoolskoene bykans ooghoogte met sy ma.
Lees ook: Van speelskool na grootskool: Wat Gr. 1-ouers moet weet
Met die gespartel om weer in roetine te kom, buitemuurse aktiwiteite te koördineer en nog al die ouervergaderings en spesiale saalbyeenkomste ook by te woon, het ek nog nie veel tyd gehad vir nostalgies raak nie.
Maar, verlede Vrydag toe ek en hy snoepiediens by die kleuresportbyeenkoms doen, het ek besef hierdie is sy jaar van laastes: Laaste laerskoolkleuresport, laaste jaar van klavierlesse by een van sy gunstelingjuffroue, moontlik die laaste jaar saam op skool met baie van sy beste vriende.
Lees ook: ’n Briefie aan my sterk kinderhart
Dit gee my nogal ’n knop in die keel, want al weet ek iets moet klaarmaak om ruimte te laat vir iets nuut om te begin, is dit mos maar menslik om ook vas te hou aan die bekende.
Vanoggend op pad skool toe, gesels ek en hy en Kleinsus oor hoërskoolopedae en almal wat ons ken wat die week by universiteite inskryf.
“Oor nét ses jaar is ek ook op universiteit,” sê hy entoesiasties.
“Jy besef dat twee derdes van jou tyd as kind in die huis, nou verby is, nè?” sê ek vir die twaalfjarige.
“Hoogtyd, dan kan ek die groot kamer kry,” verklaar Kleinsus.
Ons lag. Maar, skielik verstaan ek die styfheid in die keel en trane van vriendinne wat pas teruggekeer het van ver dorpe en ander provinsies waar hulle koshuiskuikens en eerstejaars nou vlerke sprei.
Lees ook: Leef stadiger, leef meer
Want, skaars ses jaar gelede was hulle kinders presies hier waar my seun nou is: Blinkoog-grootoog opgewonde, maar ook effens senuagtig oor wat die laaste laerskooljaar inhou.
Op sosiale media sien ek dikwels mémes wat te doen het met tyd: “Waar was jy in 1990? Dit is presies 29 jaar gelede. Laat dit insink…”
Dit plaas my oombliklik in helderkleurige herinneringbeelde terug in mý standerd 5-jaar in my donkerblou skoolbaadjie met die opwinding van prefek, dirigent en skolierpatrollie wees, maar ook die laastes van skoolkooroptredes, Voortrekkerkampe saam met my maats – en boonop die vooruitsig van Kaap toe trek, ver weg van alles en almal wat bekend is in die Wes-Transvaal.
Ek onthou hoe “groot” en volwasse ons in standerd 5 gevoel het. Onverskrokke só. En, op ’n vreemde manier stel dit my gerus: Ek mag dalk voel of hierdie jaar heeltemal te vinnig weggespring het en ek probeer nog my sitplekgordel vasmaak vir graad 7. Maar, eintlik is die graad 7 self heeltemal oraait en in staat om sy laaste laerskooljaar aan te pak en die meeste van elke laaste – en ook elke eerste, soos nuwe hoërskoolvakke – te maak.
Vir al die mammas wat, soos ek, aan die begin van ’n jaar van eerstes en laastes met julle spruite staan: Sterkte. Mag julle en julle telge se dae genoeg ure hê om alles in te pas. Maar, bowenal, mag julle dae genoeg tyd hê om elke goeie oomblik te belééf.