Anel Alexander oor groot aanpassings, Suid-Afrika en LA se verkeer deur Zoë Salzwedel
Julle het in September 2016 na Los Angeles vertrek, en jy het tydens ons laaste onderhoud (Junie 2018) vertel dat die trek emosioneel ’n groot aanpassing was. Hoe het julle lewe sedert daardie eerste dag verander? En wat was (of is dalk steeds) vir jou die grootste aanpassing?
“Hulle” sê dit vat drie jaar om aan te pas in Los Angeles … Twee jaar later verstaan ek presies hoekom. Dis ’n enorme stad en die filmindustrie hier is so groot en vreemd dat dit werklik lank vat om jou voete te vind. En die “hulle” wat altyd praat oor die drie jaar aanpassing, is boonop gewoonlik Amerikaners wat net van Wisconsin of Michigan af LA toe getrek het. Wat nog te sê van al die pad van Suid-Afrika af?! So ek dink ’n mens kan beslis nog ’n jaar of twee byvoeg vir immigrante. In Oktober vanjaar het ons drie jaar in LA oorleef, en net die mense wat hier bly sal verstaan wat ek daarmee bedoel – dis ’n baie intense stad en soveel te meer in die filmbedryf.
Ek is mal oor LA. Dis regtig ’n ongelooflike diverse en kosmopolitaanse stad. Hier is plek vir elke kleur en geur, elke gier en geit. Maar dis steeds vir ons ʼn baie groot aanpassing om oor te begin in alle opsigte van ons lewens, hetsy dit nou vir ons loopbane of finansieel is, of al die nuwe dinge wat ons moes kry. Vriende, blyplek, medies … ’n Mens begin letterlik van voor op alle vlakke, en dis ontsettend uitputtend!
Ek is ook opnuut bewus van hoe bevoorreg ons grootgeword het in Suid-Afrika, en hoe almal wat dié artikel lees waarskynlik self nie besef hoe bevoorreg húlle daar is nie – ons handhaaf regtig ’n baie hoë lewensstandaard in Suid-Afrika.
Ek het nog glad nie aktrise-wees hier in LA pursue nie, maar fokus eerder op my loopbaan as vervaardiger agter die skerms. Noudat ek hier begin werk het besef ’n mens dat dit nie net taal en kultuurverskille is wat jy moet oorkom in ’n nuwe land nie, maar ook ’n hele ander manier van besigheid doen. Hier is ontsettend baie geld, ego’s en regte roem op die spel in Hollywood (iets wat ons glad nie ken in Suid-Afrika nie) en dis nog vir my ’n groot aanpassing om al die persoonlikhede te leer hanteer.
Ek werk in wat die Amerikaners ’n “physical production” noem in verskeie media. Van televisieprogramme tot musiekvideo’s, advertensies en “pick-up shoots” vir lokettreffers. Ek kry ’n lekker oorsig van alles wat Hollywood aanbied, ontmoet talentvolle mense, skiet op interessante plekke, en raak meer en meer gewoond daaraan om saam met die “celebrities” te werk. Maar dis maar moeilik om weer onder te begin, hoor!
Hoe ervaar julle die daaglikse lewe en gejaag van Hollywood. Is dit alles wat jy gedink het dit gaan wees, of het die lewe daar jou idee van Hollywood baie verander?
Ek kry ’n baie unieke kykie op die Hollywood wat min mense te siene kry – aan die een kant is dit onbeskryflik en aan die ander kant moet ek eerlik wees en sê dat al my illusies en drome oor Hollywood heeltemal gecrush is! Dit werk glad nie soos wat mens dink dit werk nie, en selfs ek wat in die industrie was en gevoel het ek is redelik ingelig, besef nou mens het nie ’n idee hoe Hollywood eintlik werk totdat jy self híér is nie.
Maar die hoofrede hoekom ons oorgekom het was om te kom leer, en ek voel dat ons wel baie leer, selfs al leer jy ook baie goed wat jy nie noodwendig wou weet nie.
Lees ook: Anel Alexander en ander se raad oor uitbranding
View this post on Instagram
Lake Arrowhead. Felt like we were in an American summer holiday movie al weekend… #LoveCalifornia!
View this post on Instagram
Somebody in our household is devastated by the Dodger loss this weekend…
Ons sien op Facebook dat Johannesburg toe nie die enigste plek ter wêreld is waar die verkeer erg is nie, maar dat Hollywood óók met dié probleem sukkel? Kan jy die Suid-Afrikaanse verkeer met die van Los Angeles vergelyk, of is dit ’n hele ander nagmerrie?
Vanaf Februarie 2018 is Los Angeles die mees belaste stad in die wêreld – Suid-Afrika is nie eers op die lys nie! Los Angeles laat my baie aan Johannesburg dink, dis net groter en voller. In plaas van drie bane is daar ses, in plaas van twee snelweë is daar 12, in plaas van 4.4 miljoen mense, bly hier 10.1 miljoen. Maar LA is net so uitgesprei soos Johannesburg en dit het ook ’n bestuurkultuur. Hier is publieke vervoer, maar dis net nie effektief genoeg nie. En dan moet mens boonop ook nog aan die anderkant van die pad leer bestuur!
Vertel vir ons van jou nuwe projekte.
As Scramble Productions is ons altyd besig om aan nuwe projekte vir film en televisie te ontwikkel. Tussendeur vryskut ons en leer nog die landskap hier in Hollywood ken. Maar ek moet sê, ek brand om weer voor die kamera in te skuif as aktrise. Hopelik hou 2019 vir my ’n lekker rol in en dit sal net ’n bonus wees as dit my terug Suid-Afrika toe kan neem!
En laastens wil ons weet wat die lewe in LA jou tot dusver geleer het? En watter raad het jy vir Suid-Afrikaners wat hulself in ’n ander land wil vestig?
Sjoe, dit was die moeilikste, ongemaklikste twee jaar van my lewe tot dusver, maar terselfdertyd ook die mees persoonlike en grootste loopbaangroei wat ek nog ooit ervaar het. Ek dink die les bly maar dat niks in die lewe wat die moeite werd is, maklik kom nie. Groei verg opoffering. Die trek hiernatoe het ons ook meer intens laat kyk na dit wat ons regtig in die lewe wil hê, wat ons prioriteite is en om ons drome en persepsie van sukses te herdefinieer. Ons wil nou iets baie anders uit die lewe hê as voor ons oorgekom het, en dis ’n baie bevrydende plek om op te wees.
My raad aan Suid-Afrikaners wat oorsee wil trek? Ek is geweldig dankbaar dat ek met eerlikheid kan sê dat ek en James nie van iets af gevlug het nie, maar eerder in die rigting van meer en ander groter geleenthede gehardloop het. Ons is baie lief vir SA en hoop om weer terug te keer, maar om ons loopbane volhoubaar te maak en aan die gang te hou moes ons net ander opsies kom verken.
Die gras is verseker nie groener aan die anderkant van die draad nie, iewers gaan jy iets moet opoffer en ek dink mense wat emigreer besef nie altyd wat hul gaan opoffer nie, want mens besef nie eers jou “Suid-Afrikaansgeit” totdat jy dit verloor nie.
Ek en James het op die moeilikste manier geëmigreer met geen kontakte of hoop op werk aan die anderkant nie. Maar dis ongelukkig die aard van ons industrie en ook ’n besluit wat ons kon maak omdat ons nog nie kinders het nie. Ons was in ’n posisie om alles op die spel te plaas. Ek ontmoet gereeld ander Suid-Afrikaners hier wat oorgekom het met ’n maatskappy wat vir hulle werk reeds in plek gehad het en ek kan vir julle sê dis verseker aan te bevele. Die maatskappy organiseer vir hulle blyplek, medies en ’n motor. Jy weet jy het werk en jy kry ’n salaris aan die einde van die maand. Jy het ook kollegas, so ten minste het jy in die begin ’n groep vriende of kennisse wat kan help en raad gee. Ons het niks van dít gehad nie en dit maak die reis net soveel moeiliker. Bo en behalwe vir die feit dat jy reeds al die bogenoemde moet hanteer, moet ’n mens boonop aanpas by die taalverskil, jy mis jou familie en vriende, en dis ’n groot kulturele aanpassing. ’n Mens weet nie eers waar om kos te gaan koop nie! So as ’n mens kan immigreer met ’n werk wat wag aan die ander kant, of ten minste ’n basis by ’n sussie of skoonfamilie wat reeds daar bly sal dit baie help.
En kry jou papierwerk in orde voor jou vertrek! Te veel mense kom oor sonder die regte visas en werkspermitte en dink dat hulle dit aan die anderkant kan uitsorteer, maar dan word dit net ’n nagmerrie.
Lees ook: Ons gesels met Anel Alexander by Cannes
Volg gerus vir Anel op haar Los Angeles-avonture op sosiale media: Instagram, facebook, en twitter