Botswana: plek van verwondering deur Ronèl Geldenhuys. Foto’s verskaf.
Ek was vanjaar op twee reise in Afrika. In Juliemaand na Botswana en Namibië, en in Oktober na Malawi. In albei gevalle is ek werk aangebied in daardie lande en het ná die voltooiing van werksopdragte gereis. In Juliemaand tydens die reis na Botswana en Namibië was die vervaardiger, Danie Jansen van Vuuren, saam met my.
Die eerste land wat ek aangedurf het (Danie het ’n paar dae na my daar aangekom) was Botswana. Dit is ’n ryk land. Ek het nie een bedelaar teëgekom of ’n enkele gehuggie gesien in die tien dae wat ons eers in Gaborone gewerk, en toe na Goo Moremi gereis het nie. Almal met wie ons te doene gehad het, het ons met selfvertroue en sonder enige rassespanning hanteer.
Ja, ek moet erken, daar was aanvanklik ’n gesukkel met die Afrikaritme. Later het ek ontspan. Hoe meer ek ontdooi het om deel van die rustige, kollektiewe omgang met tyd te word, hoe meer het ek die ontknoping van hierdie ongewone ervaring geniet. Ek het gevoel soos iemand wat onder water swem, vir die eerste keer. Asof ek moes leer snorkel. Elke ding wat jy sien, is asof dit ’n eerste keer is. Jou reaksie daarop kan spruit uit vorige ondervinding, maar jy is nooit seker dat jy dieselfde resultate sal kry nie. So jy laat gaan. Ervaar vars, sonder verwagting op ’n vaste uitkoms.
Ek en Danie het grappenderwys ’n belewenis in een van die strate van Gaborone in ’n sêding omskep: “Die verkeersligte is groen, maar niemand ry nie!”
Tegniese uitdagings het tot gevolg gehad dat ons tot laat in die nag moes beplan en ekstra dae moes werk. Toe ons amper terloops uitvind dat ons op die rant van vier vakansiedae was waartydens niemand in elk geval sou werk nie, het ons besluit dis tyd om onsself te beloon. Maar vakansiedae in Botswana beteken toe blykbaar ook geen vlugte na die delta waar ons altwee bitter graag wou uitkom nie. Dit was toe dat ons hoor van Goo Moremi. ’n Heilige plek in Botswana waar die hoofman slegs sekere mense toelaat om die watervalle te besoek waar die voorvaders voorheen vir eeue ongestoord kon rus. Ons het besluit om die kans te waag om uit te vind of ons die hoofman se goedkeuring sou kry en het die rit met opwinding aangepak.
Met gemoedelike stiltes afgewissel met geselsies het ons gery. Ons het gepraat oor die hoofman. Hoe sou ons hom ontmoet? Wat sou ons sê as ons met hom praat? Ons het oor ’n insident gelag wat die vorige dag in Gaborone gebeur het. Ek het die gewoonte om kunstenaars met wie ek werk op die grond te laat lê, koppe bymekaar, voete uit na buite, soos ’n ster. So poseer ons vir ’n foto as ons werk klaar is. Tydens die geskarrel om die foto inderhaas in die gange van ’n groot gebou geneem te kry, haak ’n pragtige, talentvolle jong meisie af en vertel sy kan dit nie doen nie aangesien sy nie onderklere aanhet nie. Vele lagbuie later het ons haar oortuig dis doenbaar. Ons neem net die gesigte af.
Ek en Danie het volgens aanwysings vir ’n paar uur lank die land in gereis, later in die donker amper teen ’n koei gebots en in die rou veld beland omdat ons die instruksies letterlik opgeneem het. Ons groenlig sêding het ’n stertjie gekry: “…en alles is 17 km verder as wat die aanwysings sê.”
Ons ervaring in Moremi Gorge (of Goo Moremi – dis nie dieselfde plek as Moremi nie!) was op ’n sekere vlak ontnugterend.
Na ons aankoms in die donker daardie nag het ons eers die volgende oggend die plek begin verken. Waar is die waterval? Waar is die hoofman? Met ’n vae kaart wat die vorige aand met ons aankoms in ons hand gestop is en twee appels, as ek reg onthou, het ons met optimisme en waarskynlik ’n bietjie te veel vertroue die pad gevat. Of sal ek liewer sê, bos gevat. Doringbos en stof en hier en daar ’n skedel, werwel of ’n hopie mis. Min wetende dat die verbod op die besoek aan die kloof in 2017 gelig is mits jy met ’n gids opgaan en nie swem nie, het ons ons eie weg probeer vind. Hoe daardie belangrike inligting ons verbygegaan het, weet ek tot vandag toe nie. Ure later, voosgeloop in die bosse sonder paadjies, ontbloot in die son met klere plek-plek geskeur en doringtakke wat in hare verstrengel geraak het, hoor ons die eerste klanke van belofte. Water!
Die foltering het verander in ’n magiese ervaring. Die kabbelgeluid van die stroompie wat ons in die eerste plek soos klanklinte op die wind bereik het, het ons dieper en dieper in ’n eeue oue wêreld ingelei. Op en op in ’n kloof waar die rykdom van leeftye se respek vir die natuur amper tasbaar was. Enorme klippe wat liefderyk vasgehou word deur langarm boomwortels. Uitgeholde rotse wat ruik na koel groen skaduwees. ’n Magtige rotsblok wat dawerend in die kloof afgekom het in 1980, die nag toe Seretse Khama gesterf het, lê met ’n gedenkplaat op. Die mense het die stem van die natuur verstaan. Hulle het geweet ’n groot man het gesterf toe hulle die oorverdowende gerammel hoor, ure voor die amptelike nuus hulle bereik het.
Plek-plek word die stroompie ’n poel. Het niemand nog hier geswem sedert die begin van die skepping nie? Jy sien tot op die bodem. Hier loop ’n krap, daar beweeg ’n vis. Die oppervlak soos ’n dun beweegbare vlies glimmend bo-oor. Uitlokkend. Dis asof water nog nooit so lewendig was nie. Ek ken hierdie gevoel, asof ek die eerste persoon is wat die voorreg het om hierdie oomblik, hierdie lug in te asem. Alles lê in ’n rustige intimiteit toegewikkel. Iets is teenwoordig wat saam met ons asemhaal.
Ons hoor die eerste veraf geluide van die waterval. Soos ons stadig ons pad na bo vind, rots vir rots sorgvuldig uitkies, word die klank van vallende water al harder. Ons weet ons is naby en ek voel ’n blyheid in my opstu. Ek sien uit na die oomblik waar die kloof haar grootsheid vir ons gaan wys. Haarself onweerstaanbaar ontbloot. Dan is daar skielik ’n geluid wat laat deurskemer wat voorlê. Veraf die harde gelag van mensestemme en ’n roepgeluid. Die volgende oomblik neem die magiese teenwoordigheid van die kloof weer oor, en ek is soos ’n verslaafde wat my sintuie teruggee aan dit wat om my is.
Dis wanneer ons om die laaste rots loop wat die teerheid om ons wreed uitmekaar breek. Kwaai gidse kom dreigend na ons toe aangeloop: “Het julle alleen hier opgeloop? Hoe het julle hier gekom?” Oë hard en koud. Ons is effens verward, probeer verduidelik. Die groot plat rots agter hulle is vol groepies mense. Jong vroue in deftige uitrustings en modieuse skoene. Selfiestokke. Jong manne wat trots pronk met hulle geliefdes onder die arm, waterval agter hulle. Hulle kyk nie eers na die water nie. Ons praat onsself versigtig los. Vra om verskoning. Uiteindelik laat hulle ons gaan.
Na ’n ruk sien ek Danie lê eenkant, effe weg van die geroesemoes, op sy rug op die rots. Bo hom sweef ’n skaars soort arend. Agterna vertel hy in detail van die dans wat die arende deur die lug gevlieg het. Ek voel sy geneentheid met hulle. Daar is ’n teerheid in hom as hy diere teëkom.
Ek word gevra om in iemand se foto te wees. Hoekom? Ek verstaan nie, maar glimlag vir die kamera. Sit my arms om die jongmense om my.
Daardie aand, moeg geloop en ervaar, gaan ons na die stoep van die nuwe Lodge om lafenis te soek. Terwyl ons nader stap sien ek ’n paartjie op die stoep sit. Hulle lag en lyk gelukkig. Die meisie is pragtig. Haar kop draai skuins en lyk skielik bekend. Nee, dink ek. Dis tog nie moontlik nie. Gaborone is ure van hier af. Maar dit is so. Die meisie op die stoep is die sprankelende een sonder onderklere van Gaborone. Ons herken mekaar en lag. Later, wanneer die bier amper op is, ontdek ons wie sy is. Haar oupa is die hoofman. Haar familie bewaak al vir eeue lank die kloof in Goo Moremi. Hulle het besluit om dit oop te stel vir die publiek ter wille van toerisme. Ter wille van ’n inkomste vir die mense in die omgewing.
Ons is vroegoggend die volgende dag weer die kloof in voor ons die pad aandurf terug Gaborone toe. Ons wil weer alleen.
Die keer is daar nie ’n gesukkel om ons weg te vind nie en in ’n japtrap is ons in die kloof, haar asem in soet geure om ons. Ek laat myself sak tot diep in my binnehart, daar waar alles bymekaarkom. My amper smeekgebed sonder klank: “Ek is jammer. Hulle het nog ’n stukkie van jou heilige lyf verkoop, en ek dink regtig nie hulle weet mooi wat hulle doen nie. Vergewe ons asseblief.” Die antwoord is terselfdertyd intiem en onpersoonlik. Dit is soos dit is.
Terug by die parkeerplek klim ons in die kar en vat pad Gaborone toe. Ons praat min. Hy is bly ons was weer in die kloof, sê Danie. Saam lag ons oor die meisie op die stoep en ons is dit eens. Môre se hoofmanne is te mooi en te suksesvol om hulle met die kloof te bemoei. Die pad is lank en ons hou stil in ’n dorpie waar ons klere koop. Dis altyd lekker om klere te koop. In Botswana voel alles in elk geval of mens leer snorkel.
Ronèl Geldenhuys woon in Somerset-Wes. Sy werk op die oomblik meesal as vryskut radioregisseur en stemkunstenaar. Sy is ook ’n origamikunstenaar en terapeut wat verskeie modaliteite geïntegreer het, en sy doen “so af en toe ’n bietjie modelwerk vir Boss Models!”