Ons gesels met Liana van Mooimaak 2. Inligting en foto’s verskaf deur kykNET en Mooimaak.
Liana het onlangs ophou rook en wou graag haar voorkoms verander nadat sy die afgelope paar jaar ’n lae selfbeeld ontwikkel het. Met die toegewyde bystand van haar man het Liana ’n ongelooflike transformasie ondergaan by Mooimaak.
Om meer uit te vind oor die behandelings wat Liana ontvang het, klik hier.
Hoekom het jy ingeskryf?
Ek het op 19 Februarie 2018 opgehou rook na 39 jaar en na 2 weke het ek steeds onttrekkings en cravings gehad. 5 Maart was die sluitingsdatum van die kompetisie en op daardie dag het ek die advertensie gesien en net daar en dan besluit om ’n kans te vat en in te skryf. Ek het nie eers gedink hulle sou my inskrywing raaksien nie! Vandag glo ek dit was Jesus se bederfie vir my omdat ek opgehou rook het.
Wie het jou aangemoedig om in te skryf?
Ek het myself aangemoedig. Ek het baie verouder in die afgelope 5 jaar en ek het net ’n punt bereik waar ek glad nie meer goed oor myself gevoel het nie. Dit het my in ’n kluisenaar verander. Ek is al vir die afgelope 2 jaar besig met my eie pelgrimsreis om myself as persoon te verander. Hierdie voel vir my soos die kersie op die koek.
Wat hoop jy om uit die transformasie te kry?
Ek hoop om my selfvertroue weer terug te kry. Ook om nederig te bly na al die oorweldiging en veranderinge van hierdie proses.
Vertel ons oor die proses. Was die pyn die moeite werd?
Die proses is nogals intens: Dit was onder andere tweeweeklikse behandelings, herstel, verfilming en talle ander reëlings en gebeurtenisse wat mens die hele drie maande besig gehou het. Die pyn was deur en deur die moeite werd 🙂
Sal jy dit weer doen?
Beslis.
Waarvan hou jy die meeste na die transformasie?
Ek hou van alles, maar die nuwe glimlag is ekstra spesiaal.
Waarvoor sien jy nou kans wat jy nie voorheen wou doen nie?
Om weer met mense kontak te hê en met selfvertroue ’n gesprek te kan voer.
Hoe verander dit hoe jy jouself sien?
Ek het weer energie en lus vir die lewe!
Sou jy iemand anders aanraai om deur die proses te gaan?
Beslis! Dit is ’n absolute onvergeetlike maxi-bederf lewensveranderende reis wat ek nooit sal vergeet nie!
Voor
Na
Volg Mooimaak op hul webblad, facebook en Instagram. Skakel Donderdagaande in om 20h30 om hierdie reeks te kyk.