Foto’s en teks: Margaret Gardiner
Ek skrik wakker. Silwer lig stroom die kamer in. Het ek verslaap? Ek spring uit die bed en kyk na my wekker wat ek aan die ander kant van die kamer neergesit het om te verseker dat ek nie die snooze-knoppie druk wanneer dit afgaan nie. Dis 03:00. Wag. Hoekom is dit so lig? Aha! Ek het vergeet om die gordyne toe te trek en die sonskynnagte van Swede het my wakker gemaak.
Die bleek skynsel in die lug terg my. Hoe voel dit buite? Ek trek ’n romp en bloes aan en stap ondertoe. Daar is een persoon wat ontvangs beman. Ek dink ek moet hierdie neem vir Suid-Afrika, en ek vra hom om ’n foto te neem. Die lug is die kleur van sjampanje. Ja, ja, ek het drie uur lank geslaap en ek is in ’n ander tydsone, maar die lug! Ek besing die lug en die ervaring, en die ontvangspersoon lag maar net.
“Dis nie altyd so nie, hoor! In die winter kom die son eers om elfuur op en ’n paar uur later is dit weer weg. Die sneeu smelt en vorm hope in die strate. Dis koud. Jy het op ’n goeie tyd gekom. Perfekte somer.” Aggenee! Ek lewe op sonskyn so ek dink nie ek sal die Sweedse winter geniet nie. Ons neem ’n paar foto’s – ondanks my deurmekaar geslaapte hare en vlugvoos gesig en toe draai ek om om die uitsig in te neem.
Ek kan dit nie heeltemal beskryf nie, maar dis wat ek gesien het: die water is helder en kalm en nes ek wegkyk, het daar elke keer ’n vis uit die water gespring. Al het ek dit nooit sien gebeur nie, was die plonse groot en spelerig. Soos die son opgekom het, het die kleure meer intens geraak en die wolke het ’n vertoning gegee wat ’n mens sommer bewoë maak. Ek het begin loop om als in te neem en toe ek weer sien, is dit tyd om koffie by ’n stalletjie te koop, saam ’n paar croissants en vrugte en om na my kamer terug te keer om te werk. Om sesuur, toe die gim oopmaak, het ek gaan kyk of ek ’n bietjie kan oefen om varser te voel. Die vier klein kamers is propvol toestelle – so ek kon uit ’n verskeidenheid kies. Ek sukkel met ’n besering en het die toestelle gebruik wat ek mag, en daarna het ek kamer toe gejaag, ontbyt geëet en voorberei vir ’n dag vol perskonferensies.
Eerste was die manne van ABBA. Jy kan dink dit sou vervelig wees, maar nee, die gesprek is fassinerend. Hulle is dekades lank al wêreldbekend en hulle het baie interessante stories om te vertel. Hulle het van hul liedjies verwerk om die storielyn van Mamma Mia: Here We Go Again te pas – nie ’n maklike taak nie. Hulle is lewendig en oopkop oor die rigting waarin die samelewing beweeg. Die twee is duidelik baie goeie vriende. Hul storie fassineer my en my respek vir hulle as mense en kunstenaars neem toe. Omdat ek hul museum besoek het en omdat ek die fliek in Los Angeles gekyk het, is daar ’n erkenning wat mens moet maak: Hul musiek lig jou uit jou omstandighede en omdat die wêreld is wat dit is, is hierdie feit ’n vrolikheid en iets om te vier.
Die Sweedse akteur Stellan Skarsgard is volgende. Hy het agt kinders – drie wat ook vir hulself naam maak in flieks: Alexander (The Legend of Tarzan, True Blood), Bill (Deadpool 2) en Gustaf (Vikings, Westworld) – en nog ’n vierde ene volg binnekort in hul voetspore. Hy praat oor sy verhouding met die omstrede regisseur Lars von Trier en ’n ander regisseur (wie se naam hy nie wil noem nie), en sê hy wens hy kon hulle op stel regsien.
Toe breek ons vir middagete: biefstuk, groente en ’n hoenderslaai. Die nagereg moet tog ook genoem word: roomys met sjokoladesous en my heel gunsteling: meringues. My ma en ek het dit altyd saam geëet en ek het haar later in haar lewe graag verras met een van hierdie bederfies. Ons twee het altyd gegrinnik oor hierdie bederf en dit dan dadelik opgeëet. Ek weet dis banaal om foto’s van jou kos te neem, maar ek moes net!
Lees ook: Margaret Gardiner: ’n Ma soos myne
Ná middagete daag Amanda Seyfried op en sy lyk pragtig met ʼn rok met ʼn lae halslyn en een of ander ooginfeksie wat sy aandring sy het, maar die joernalis kan dit nie raaksien nie. Sy praat oor hoe dit is om met Meryl Streep te werk, hoe dit is om ma te wees (laas toe ons gesels het, was sy hoogswanger) en hoe sy die rol van ouer geniet. Sy wonder hoe sy dit sou hanteer as Harvey Weinstein enigiets met haar sou probeer het omdat hy soveel mag gehad het – wat die werklikheid van vele vroue illustreer wat in situasies geplaas word waar hulle gemanipuleer kan word omdat hulle nie hul eie mag besef nie. In hierdie fliek, soos in die vorige een en in Les Misérables, sing sy baie mooi.
Dan is dit Lily James van Downton Abbey-faam. Hierdie vrou gaan nog ’n ster wees. Sy is in haar fleur en sy het genoeg talent vir twee mense. Sy moet wel nog leer hoe om onderhoude te doen maar sy deel darem genoeg inligting oor haarself dat mens ’n artikel kan skryf.
My onderhoude van die dag eindig met die unieke, enigste Pierce Brosnan. Hy kom voor as ’n skamerige man wat dankbaar is oor waar hy is, maar die manier hoe hy oor sy vrou praat maak hom baie aantreklik.
Dis amper vyfuur. Ek is al 13 uur lank wakker, maar dis my laaste aand in Swede – ek sal môre op die vliegtuig slaap. Voor my lê ’n toer van die stad in ’n bus wat in ’n boot in verander, dan die kwartfinaal van die sokkerwêreldbeker en dan … wie weet? Die lewe is daar om geleef te word, en mens moet dit nou doen.
18:00 Ek bestyg die amfibiese bus. Ek is een van die laastes om aan boord te gaan, so ek loop ’n vensteruitsig mis. Ons kies koers verby die besienswaardighede van Stockholm totdat ons by die meer aanland. Sonder enige moeite tref die bus die water en begin vaar!
Ons vaar verby gemoedelike Swede op hulle bote of aan’t swem. Almal wuif vriendelik. Dis ’n heerlike manier om die dag af te sluit. Water, lug en lig is dinge wat my siel voed, so ek is meer as energiek genoeg om die volgende Sokker-Wêreldbeker semi-finaal te kyk. Dit hou vir ewig aan en teen die tyd dat ek in my kamer kom is dit al na 23:000. Nadat ek my grimering verwyder het, tref ek die stort en spring in die bed.
Volg gerus vir Margaret op Instagram en facebook om op hoogte te bly met haar opwindende lewe.
Lees ook: Dag 1 in Swede