1 Wat jy raaksien: Jou dogter kry ’n rooi vlek wat soos skoenlappervlerke oor haar neus en wange strek. Of sy ontwikkel skurwe, rooi kolle op haar gesig, elmboë, arms, kopvel en ore. Dit vererger as sy in die son was. Sy kan kla van maagpyn en seer gewrigte – veral haar hande, knieë en vingers. Sy is altyd moeg, soms koorsig en kort van asem.
Moontlik Lupus. Neem jou dogter na ’n rumatoloog vir diagnose en verdere hantering van hierdie lewenslange toestand. Laat ’n nefroloog haar niere gereeld monitor. Doen alles wat julle kan om lupus in remissie (onderdruk) te hou. Stres, sonlig (UV-lig), en vermoedelik estrogeen kan lupus laat opvlam. Handhaaf ’n rustige pas, bly uit die son, bly weg van sonbeddens en moenie die Pil (vir haar vel of voorbehoeding) gebruik nie. Sy moet ook alkohol vermy omdat dit met die medikasie inmeng.
Vir ondersteuning kontak die Lupusstigting by 012 651 5676.
2 Wat jy raaksien: Jou kind is sonder rede moeg, verloor gewig, kla van pyn en het knoppe of swelsels.
Moontlik een van die algemene tienerkankers. Die algemeenste tienerkankers en hul hoofsimptome is: Beenkankers beenpyn, veral ná sport en snags; die been of arm swel. Leukemie beenpyn, bleekheid, blou kolle en verkouesimptome. Breinkankers hoofpyn, breinfloutes, ongewone lompheid en naarheid. Limfoom knoppe wat nie seer is nie in die nek, armholtes en dye, ligte koors en “verkoue” wat nie opklaar nie. Testikulêre kanker knoppe en swelsels in en rondom die testikels.
Laat jou dokter jou kind ondersoek – en so gou moontlik. En bly positief. Talle tieners oorleef dié kankers en leef ’n vol, normale lewe.
Vir ondersteuning: Kyk gerus na “People Living With Cancer” (www.plwc.org.za). Hulle help mense om ’n “buddy” met dieselfde kanker te kry waar moontlik. CHOC (www.choc.org.za) ondersteun ouers van kinders met kanker.
3 Wat jy raaksien: Jou tiener het chronies maagpyn en het weke aaneen erge waterige of bloederige diarree. Jou kind groei nie en/of verloor gewig, en is geweldig moeg.
Moontlik Crohnsiekte of prikkelbare dermsindroom. Neem jou kind na ’n internis vir diagnose en na ’n dieetkundige om met sy dieet te help sodat julle kos uitskakel wat sy dermkanaal kan irriteer en julle te help beplan vir skoolkampe en skooltoere.
Vir ondersteuning: Hou kontak met jou dieetkundige, veral wanneer dinge vererger.
4 Wat jy raaksien: Jou kind se bui wissel van buitengewoon laf, ooroptimisties en gedrewe na diepe depressie. Hy is baie besig met projekte, slaap min en sal selfs nagte deur werk sonder om moeg te word. Maar dikwels maak hy nie klaar waarmee hy begin het nie. Sy aandag spring van een onderwerp na die ander, en sy gesprekke is soortgelyk los en vas. Hy tree met tye riskant en waaghalsig op, veral ten opsigte van drank, seks en dwelms en rebelse, stout of belhamelgedrag. Aan die ander kant is hy vir lang tye intens depressief, hopeloos en praat hy selfs van selfmoord. Tieners ís emosioneel wisselvallig maar hierdie tieners se simptome is baie intens en duur vir minstens ’n week.
Moontlik Bipolêre depressie. Neem jou kind dokter toe terwyl hy in ’n hipermaniese (“op”) fase is sodat ’n objektiewe buitestander kan oordeel of jou kind normale tienergedrag openbaar of hipermanies is.
Vir ondersteuning: SADAG (www.sadag.org) spesialiseer in hulp vir alle gemoedstoestande, met uitstekende, omvattende inligting op hul webwerf en telefoniese beraders by 011 262 6396 en 0800 70 80 90.
5 Wat jy raaksien: Jou dogter verloor maklik gewig, slaap min, sweet baie, kan nie hitte verdra nie, menstrueer ongereeld, is geïrriteerd en het ’n vinnige polsslag. Of jou kind is stadig en tam, terneergedruk, sit maklik gewig aan, menstrueer ongereeld en sukkel om te konsentreer.
Moontlik Skildklierprobleme – ’n ooraktiewe skildklier (hipertiroïdisme of Gravessiekte), of ’n onderaktiewe skildkliere (hipotiroïdisme) in die tweede geval. Neem haar na ’n endokrinoloog.
Vir ondersteuning: Lees gerus Die stille epidemie van Mariëtte Chippindall.
6 Wat jy raaksien: Jou kind is moeg, effe koorsig, met ’n seer keel en geswelde kliere in die nek, vir twee tot vier weke.
Moontlik mononukleose, of die soensiekte, omdat dit is hoe ons dit aansteek, meestal voor ons 25 is. Teen veertig het 90% van ons die Epstein-Barr-virus opgetel, wat vermoedelik mononukleose veroorsaak. Die meeste van ons herstel volkome maar ’n klein persentasie mense ontwikkel later Guillain-Barré-sindroom, ensefalitis (ontsteking van die brein) of ontsteking van die hartspier.
Gaan dokter toe om ander siektes en komplikasies uit te skakel. Verder het jou kind nou rus nodig. Los sport vir vier tot twaalf weke, tot hy werklik gesond voel. Bloedarmoede is baie algemeen hierna. Sorg vir ’n ysteraanvulling en ysterryke kos soos lewer, rooivleis, eiergele, neute en sade, pietersielie, rosyntjies, dadels en boontjies.
Vir ondersteuning: Laat weet die skool sodat jou kind vir die kwartaal nie aan sport deelneem nie.
7 Wat jy raaksien: Jou kind is atleties: lank, skraal, met buitengewoon lang arms en bene, en lang, dun vingers en tone. As jou kind met sy duim en pinkie om sy ander pols vat kan die duim tot oor die pinkie gaan. Sy gewrigte is opvallend slap en kan ver verby normaal beweeg. Oefening maak hom gou moeg. Hy is moontlik bysiende en soms lighoofdig. Baie het ’n besonder hol rug, hol bors of hoenderbors. By party is die simptome duideliker en sterker uitgedruk; by ander is dit minder opvallend.
Moontlik Marfan-sindroom, ’n toestand waarin sy liggaam nie normale bindweefsel (jou liggaam se “gom”) maak nie. Daarsonder is die hartklep verswak, kan die hartslagaar maklik skeur as hy hard oefen, kan die retinas van sy oë maklik loslaat, en is sy skelet, gewrigte, spiere en longe verswak. Dit is ’n oorerflike siekte maar een uit elke vier lyers het geen ander familie daarmee nie.
Jou kind kan ’n lang, gesonde, normale en vol lewe lei, mits julle Marfan-sindroom vroeg diagnoseer en van jongs af goed bestuur. Laat jou huisdokter julle help om die toestand oorhoofs te bestuur maar julle sal ook ’n kardioloog (vir sy hart), oftalmoloog (vir sy oë) en ortopeed (vir sy skelet) benodig. Fokus op ’n gesonde lewenstyl en ligte oefening maar kontaksport soos rugby of netbal en gimwerk met gewigte is uit. Hy kan wel gholf speel, kitaar neem, boogskiet, swem en fietsry solank sy polsslag onder 110 bly.
Vir ondersteuning: Kontak die SA Marfan-sindroom-ondersteuningsgroep by 012 333 3894. Besoek www.marfanworld.org
8 Wat jy raaksien: Jou dogter kla van pyn rondom haar kakebeen en ore, veral as sy praat, kou of gaap. Haar kaak maak ’n klikgeluid as sy haar mond groot oopmaak.
Moontlik Onderkaakprobleem. Laat ’n tandarts jou kind ondersoek, wat op die regte terapie sal besluit.
Vir ondersteuning: Wat laat jou dogter op haar tande kners: gewoonte of stres? Help haar die gewoonte breek met ’n vriendelike herinnering as jy sien sy kners. Breek stres met tegnieke soos om elke dag tyd te maak vir oefening en sommer net pret, goeie beplanning sodat sy al haar verpligtinge en skoolwerk kan inpas en genoeg ure kan slaap.
9 Wat jy raaksien: Jou dogter se lyf lyk skeef: haar een skouerblad is hoër as die ander een.
Moontlik Skoliose. Laat jou huisdokter op jul volgende besoek daarna kyk. Dit is belangrik om die ruggraat van vroeg af reguit te kry, omdat onbehandelde skoliose lateraan baie pynlik kan word.
Vir ondersteuning: Werk nou saam met ’n fisioterapeut om jou kind se postuur en beweeglikheid te verbeter.