8 wenke om in die koue te draf. Deur Anet Schoeman.
Gebruik die winter as ’n oefenkamp eerder as ’n winterslaap. Wanneer die lente opdaag, het jy ’n wonderlike basis van fiksheid en boonop sal jy reg wees vir daai ligte somerkleertjies wat niks verdoesel nie.
8 wenke om in die koue te draf
• Trek in lae aan sodat jy maklik kan uittrek. Moenie oorwarm wees nie.
• ’n Dun windbreker is ’n wenner as dit in ’n klein bondeltjie kan opvou wat jy in jou sak kan bêre as jy te warm kry.
• Gee jouself genoeg tyd om op te warm. As jy gewoonlik 10 minute opwarm, neem nou 15-20 minute. As jy styf en koud is, is dit selfs ’n goeie idee om met ’n stappie te begin en só geleidelik jou spoed te vermeerder.
• Maak seker jy is ordentlik opgewarm voor jy die intensiteit of spoed opstoot. Jy kan maklik beserings kry as jou spiere nog nie warm is nie.
Lees ook: 4 redes hoekom dit belangrik is om rugoefeninge te doen
• Maak seker jy is veilig deur in ’n groep te hardloop as dit nog donker is en ook te sorg dat jy reflekterende klere of ’n kopliggie dra.
• As jy jou slimfoon as oefentoestel gebruik, kyk of jy dit nie op ’n ander plek as op jou bo-arm kan dra nie. Mense word ongelukkig helder oordag daarvoor aangeval.
• Gelukkig word jy gou warm as jy oefen, maar jou liggaamstemperatuur gaan vinnig daal die oomblik wat jy klaar is. Sorg dat jy so gou as moontlik van jou nat klere ontslae raak en binneshuis of in jou motor kom. As daar nie storte beskikbaar is nie, wissel jou klere.
• Dun hardloophandskoene (beskikbaar by sportwinkels) en ’n mussie gaan baie help om jou snoesig te hou.
Hooffoto: Blue Bird vir Pexels