Moet my nie met Liewe Jesus verwar nie. Ek vergewe nie,” het die sanger Steve Hofmeyr glo gesê nadat hy ’n koppie tee in die redakteur van Huisgenoot se gesig gegooi het. Nóg ’n bekende wat klaarblyklik worstel met vergifnis, is Mogamat Ladien Petersen, pa van die vermoorde kunstenaar Taliep Petersen. Petersen snr. het dit in ’n onderhoud duidelik gemaak dat hy nóóit vir Najwa (Taliep se vrou, wat skuldig bevind en gevonnis is weens sy dood) sal vergewe,nie. “God vergewe ’n mens, maar nie ek vir haar nie. Nêwwer,” het hy glo gesê.
Die Ou-Testamentiese beginsel van “’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand” is baie keer die reaksie van iemand wat te na gekom is. Ons soek vergelding; dat iemand sal boet vir wat hulle aan ons gedoen het; ons wil hulle “terugkry”, of ten minste darem hê dat “die wiel vir hulle sal draai”. Maar só ’n gesindheid kan lei tot gevoelens van haat, woede en bitterheid, wat mettertyd só deel van jou lewe kan word dat dit jou hele persoonlikheid verander.
JOHAN MARAIS (41)* se enigste seun is in 2004 in ’n motorongeluk dood. Die bestuurder van die ander voertuig is in hegtenis geneem en van ’n rits oortredings aangekla. Johan was kort ná die ongeluk op die toneel en het leë drankbottels in die ander voertuig gesien. Hy het ook gesien hoe die polisie dagga as bewysstuk uit die voertuig haal. Die bestuurder van dié voertuig was volgens Johan duidelik besope. Twee jaar later het die man – ná ’n uitgerekte hofprosedure – skotvry daarvan afgekom. Sy regspan het die saak op ’n tegniese punt gewen.
Johan se haat vir die beskuldigde en sy regspan, en sy bitterheid jeens die regstelsel wat hy voel hom gefaal het, oorheers die afgelope vyf jaar sy lewe.
“Die dronklap het my kind vermoor. Ek sal nooit sy arrogante glimlag na my kant toe vergeet toe die regter hom vrygespreek het nie. Ek lê snags wakker en wens iets verskrikliks moet met hom of met sy advokaat, of hul kinders gebeur.”
Die hofsaak – en Johan se daaropvolgende pogings om teen die uitspraak te appelleer, en ook om van die polisielede wat met die saak gewerk het, te laat vervolg – het hom finansieel verarm. Sy huwelik is aan die wankel en sy gesondheid ook. Uiteindelik het hy by ’n Christelike berader beland.
“Sy wil hê ek moet die vergifnis-ding doen, maar ek kan nie,” sê hy.
Wat is vergifnis?
Kortliks beteken dit dat die Bybelse opdrag van “sewentig maal sewe keer” (Matt 18:21-22) nie noodwendig verwys na hóéveel keer jy moet vergewe nie, maar eerder: vergewe totdat jy heeltemal vergewe het.
Die geestelike skrywer Solly Ozrovech het dit so mooi gestel toe hy sê:
“Om iemand te vergewe wat jou leed aangedoen het, is om die krag van sy venyn te verbreek.”
In William P. Young se topverkoper The Shack worstel die hoofkarakter ook met sy gevoelens teenoor die man wat sy dogtertjie ontvoer, onsedelik aangerand en vermoor het. In een toneel stel die God-karakter dit baie treffend:
“Forgiveness is not about forgetting, Mack. It is about letting go of another person’s throat.”
Wat is vergifnis nié?
Voor jy kan begin om vergifnis te verstaan, is daar ’n paar dinge wat ons moet weet wat vergifnis nié (noodwendig) is nie, sê Ray Pritchard, skrywer van talle geestelike boeke. Dit is dikwels hierdie wanopvattings oor vergifnis wat maak dat mense sê dis vir hulle onmoontlik om te vergewe, sê hy.
Dit beteken nié
-om goed te keur wat iemand anders gedoen het nie
-om voor te gee dat die kwaad nooit gebeur het nie
-om verskonings te maak vir ander mense se slegte gedrag nie
-om die kwaad te regverdig sodat sondeop die een of ander manier minder sondig word nie
-om mishandeling oor die hoof te sien nie
-om te ontken dat ander probeer het om jou weer en weer seer te maak nie
-om te weier om ’n klag te lê wanneer ’n misdaad gepleeg is nie
-om te vergeet van die onreg wat gepleeg is nie
-om voor te gee dat jy nie seergemaak is nie
-dat julle weer vriende moet word nie
-dat daar ’n algehele versoening moet plaasvind asof niks ooit gebeur het nie
-dat jy vir die persoon moet sê dat jy hom of haar vergewe het nie
-dat al die negatiewe gevolge van sonde gekanselleer word nie
-dat jy die verhouding moet herstel tot wat dit voorheen was nie
KAREN JONKER* is ’n goedversorgde vrou in haar veertigerjare. Sy, haar man en twee kinders woon op ’n plattelandse dorpie. Hulle het ’n groot vriendekring gehad. Haar man het ’n goeie werk gehad en hulle het ’n taamlik weelderige lewe gelei. Twee jaar gelede het haar man ’n groot saketransaksie met ’n ander sakeman – wat ok deel van hul vriendekring was – beklink.
Skaars ’n paar weke later het hulle agtergekom dat dié man hulle net gebruik het om hom uit ’n geldelike verknorsing tered. Karen-hulle het alles verloor. Hul “vriend” is kastig gelikwideer, maar hy het sy besittings versprei sodat niemand ’n hand daarop kon lê nie. Hy woon steeds in sy groot huis, ry in sy luuksemotors en doen flink sake op die dorp. Boonop het hy en sy vrou die situasie omgedraai en vertel nou dat Karen se man ’n “dom sakebrein” het en dat dit sy verdiende loon is omdat hulle “skelm” wou wees.
“Soms sit ek in my motor voor die Spar en ek weet nie hoe ek hier gaan uitklim en mense in die oë gaan kyk nie,” sê Karen.
“Ons het geen sosiale lewe nie, want oral waar ons kom, loop ek in Tony* of sy vrou of hul vriende vas. Ons word uit die hoogte aangekyk en dit laat ons net weer al die seerkry en vernedering van voor af beleef.”
Ek wil maar ek kan nie
Opregte berou van die ander party (in woord én in daad) is in baie gevalle die een enkele faktor wat die stap tot vergifnis baie vergemaklik, sê die kenners. Aan die ander kant kan ’n onwilligheid om berou te toon ’n groot struikelblok in die pad van vergifnis plaas. As die “oortreder” boonop steeds op ’n hooghartige of uittartende wyse optree, voortgaan om dieselfde aan ander mense te doen, of lyk asof hulle van krag tot krag gaan, kan dit tot onherstelbare skade lei en groot bitterheid tot gevolg hê.
Christene wat kies om te vergewe, het soms die beste voornemens totdat hulle weer deur die “oortreder” se teenwoordigheid gekonfronteer word, of totdat ’n struikelblok – wat direk of indirek met die voorval verband hou – opduik.
Joyce Meyer, bekende prediker en skrywer van geestelike boeke, sê jy kan al die regte besluite neem, maar vir lank steeds nie baie anders “voel” teenoor die ander persoon nie. Maar dis hier waar jou geloof jou deurdra. Jy het jou deel gedoen, en nou wag jy op God om sy deel te doen: naamlik om jou seerkry te heel. Slegs God het die krag om jou gevoelens teenoor die ander persoon te verander – nie jy of ’n wilsbesluit wat jy op eie stoom geneem het nie. Maar dit neem tyd!
Een van die eerste stappe om te doen, is om doelbewus op te hou tob oor die onreg wat jou aangedoen is en die pyn en lyding wat dit veroorsaak het. ’n Mens kán kies om nie meer heeltyd in jou gedagtes dit wat jou aangedoen is, te bly herhaal nie. Dit is nie maklik nie, maar ook nie onmoontlik nie. “Dit gaan nie oor vergeet nie, maar oor ’n sinvolle manier van onthou – onthou met die oog op herstel, op nuwe lewe,” sê geestelike skrywer Johan Smit.
Maar hóé?
Kenners is dit eens dat vergifnis ’n leefwyse moet word. Dit is nie iets wat sommer net eenmalig, byvoorbeeld in ’n ritueel, afgehandel kan word nie. Elke keer wanneer jy deur haat, bitterheid of selfbejammering oorval word, moet jy opnuut bely dat jy wil vergewe. Meyer gaan selfs so ver om te sê dat jy diegene moet seën wat jou kwaad aangedoen het.
Praktiese raad
Pritchard gee dié raad:
-Groet jou vyande eerder as om hulle te vermy. Jy ontwapen hulle deur te doen wat hulle die minste verwag.
-Doen goed aan jou vyand. Dit beteken om verby jou pyn en hul gemeenheid te kyk en hul menslikheid raak te sien; om te verstaan dat daar iets binne hulle verdraai is wat veroorsaak dat hulle doen wat hulle doen. Om goed te doen, beteken om dinge te doen wat hul genesing sal bevorder.
– Weier om kwaad te praat van jou vyande. Solank ons aanhou praat oor hoe ander ons seergemaak het, sal ons nooit die krag kry om te vergewe nie.
-Dank God vir jou vyande. Jou vyand kan jou nie treiter sonder God se toestemming nie. Agter jou vyand staan die hand van God. En Hy sal dit nooit toelaat as Hy nie bedoel het om iets goeds uit die situasie te laat voortkom nie.
-Bid vir jou vyande. Vra God om hulle te seën. Vra dieselfde seën vir hulle as wat jy wil hê God moet vir jou doen.
Vangplekke
Moet tog nie aan vergifnis dink as ’n eie prestasie nie, waarsku Smit, anders is jy besig met “’n stukkie skynheilige toneelspel”.
Wanneer die ander party se oortreding aan jou ’n soort geborgenheid besorg, ’n gevoel van ek-is-beter-as-hy-want-ek-het- nie-aangevang-wat-hy-aangevang-het-nie, moet jy eerlik besin oor die motief vir jou sogenaamde “vergifnis”. Talle Christene wat uit hul slegte ondervindings ’n verdieping in hul geloof ondergaan het, verkies deesdae om openbare getuienisse te lewer oor die onreg wat hulle aangedoen is en hoe hulle dit met die hulp van God verwerk het. In hul getuienisse in die media, van die verhoë af en teenoor ander mense, warm hulle keer op keer die “skuldige party” se oortredings van voor af op. Hulle predik vergifnis, maar is uitstekende boekhouers van die kwaad.
Watter kans het hierdie “oortreder” – wat dalk diepe berou het oor wat hy of sy gedoen het – om werklik die gebeurtenis agter die rug te sit? Die een wat vergeef het, maak seker dat niemand vergeet presies wátter onreg die ander party gepleeg het nie. Hier kan ’n mens nie anders as om na oudpresident Nelson Mandela se voorbeeld te verwys nie. Hy het nooit nodig gehad om van verhoë af in detail te verkondig presies wátter dade hy die vorige regering vergeef nie. Hy hoef nie detail te gee of mense of gebeure herhaaldelik by name te noem nie. Hy het vergewe. En die manier hoe hy dit doen, het hom byna tot ’n heilige op die gebied van vergifnis verhef.
Nie op eie houtjie nie
Moenie vergifnis alleen probeer aanpak nie,” sê Smit. “Jy gaan misluk. Bybelse vergifnis is menslik onmoontlik.” Maar God kán. En saam met Hom kan jy ook. Om te vergewe is dalk net die kronkelpaadjie wat jou uit daardie slegte plek waar jy beland het, kan lei. Dis nie ’n maklike pad nie – dis in Pritchard se woorde “’n hoofweg waarlangs jy elke liewe dag stap. Maar daar is vryheid en genesing en heelheid vir ié wat dit waag om die reis aan te pak”.