Carine Botha van Meraci Photography het onlangs haar lens op ’n projek gefokus om te bepaal presies wat dit is wat elke individu “genoeg” maak. Sy loer agter-die-skerms om ’n blik op die lewens van plaaslike bekendes te kry en só hul stories van “genoeg wees” te deel. Hier gesels sy met Binnelanders se Pascal Pienaar.
Hoe het jou droom en reis as aktrise begin?
As klein dogtertjie op die plaas Kwaggafontein buite Middelburg in Mpumalanga. Ek kan onthou hoe ek en my sussie, Yente, onsself altyd vermaak het met musiek, deur op te dress en karakters te speel, soos kinders maar doen. Ek het van kleins af baie daarvan gehou om te lees, te droom oor reis en op te lees oor mense en geskiedenis. Ek het ook van kleins af baie empatie gehad met karakters in storieboeke en met die lirieke in liedjies. Ek onthou nog hoe ek eendag op die mat voor die radio gesit en gehuil het oor ’n Buddy Holly-liedjie se hartseer lirieke. My pa vra toe wat is fout en ek sê vir hom: “Hoekom moes sy vriend doodgegaan het? Dis so hartseer”. My pa sê toe dis net ’n liedjie, maar vir my was dit ’n stukkie van iemand se lewe, van vriendskap en van hartseer. Ek dink empatie het soort van saam met my gebly deur my hele lewe. Drama was altyd in my hart en kop, ek wou dit nog altyd najaag. Ek het op hoërskool een keer saam met my ma na Binnelanders gekyk en net ’n gevoel gekry dat ek nog teenoor “Tertius” en “Gustav” sou speel. Ek het nie weer daaraan gedink totdat ek die rol gekry het nie. Die Heilige Gees werk op subtiele en wonderlike maniere en ek dink drama was meant to be. God het my kinderlike drome en natuurlike impuls geseën.
Hoe sal jy jong meisies wat die bedryf wil betree aanmoedig om die eerste stap te vat?
Ek dink jy moet eerlik wees met jouself. Jy moet vir die regte redes drama wil kies as ’n loopbaan. As jy dink dis ’n lewe van glans en as jy dit wil doen want jy wil bekend en ryk wees, dan maak jy ’n fout en gaan jy teleurgesteld wees. Op ’n motiveringsvlak sal ek sê jy moet betrokke raak by enigiets waar jy kan leer om te perform en stories te vertel. Lees boeke, gaan vir dramaklasse, sing koor en doen waarvan jy hou. Ek sal nie sê daar is ’n resep vir iemand wat in die kunste wil werk nie. Ek dink net dit moet altyd vanuit ’n eerlike plek kom. Maak kuns omdat dit vir jou lekker is en jou vry laat voel. Moet dit nie doen om ander mense te beïndruk nie. Dis ’n spasie waar jou siel kan vry wees, waar jy jouself op ’n kreatiewe manier kan uitdruk. Maar begin waar jy is en met wat jy het. Moenie omgee wat ander mense dink nie. As jy daarvan hou om te mime doen als wat jy kan om meer daarvan te leer. As jy van trompoppies hou, doen dit. Doen wat natuurlik voel en lekker is. Trust your gut. En droom altyd!
Was jy al ooit bang?
Ja, al baie! Ek het die eerste jaar by Binnelanders maklik elke tweede aand in my kar gehuil wanneer ek by die studio weggery het. Ek het nie worthy gevoel in my rol nie. Ek het ook al ’n paar keer angsaanvalle gehad by die werk. Ek was al so koud van angs dat ek gevoel het ek kan nie ’n woord uit my mond kry nie.
Hoe het jy hierdie vrees oorkom?
Ek het my familie gevra om vir my te bid dat ek nie sal opgee nie. My pa het ’n hele groep van sy vriende ge-mail (ek het dit nou die dag eers uitgevind) en mesne het vir my begin bid. Ek het ook vir my eie situasie gebid en ’n berader gaan sien oor hoe om angs te hanteer as dit my oorval. Ek het asemhaling- en visualiseeringsoefeninge toegepas as die angs opdok. Dit het tyd gevat, soms weggegaan en lukraak uit die bloute weer opgeduik. Ek weet as ek oefen en gaaf is met myself gebeur dit minder, maar “post adrenaline fatigue” help nie. So ek weet ek moet tyd maak vir oefen en rus en om positief met myself te praat. Negatiwe gedagtes maak mens siek.
Jy is al 4 jaar by Binnelanders. Wat staan vir jou uit?
Die mense saam met wie ek werk. Die crew is regtig die kampoeine. Hul toewyding, lang ure en die feit dat hulle elke dag nice is, is iets waarvoor ek baie respek het. Die journey was baie goed en ek het as mens en akteur gegroei. Ek steur myself nie meer aan wat ander mense dink of aan lelike kritiek of skinderstories nie. Ek is op my eie journey en ek weet God het my op hierdie pad gesit.
Hoe sal jy meisies aanmoedig om hul selfbeeld te verbeter?
Jy is genoeg want God wat die see en die sterre gemaak het, het jou ook gemaak. Gaan kyk ’n bietjie na die sterre dan weet jy wie die Meester-kunstenaar van jou bestaan is. Dis genoeg om te weet jy is genoeg.
Laastens, hoe sal jy jou persoonlike verhouding met God opsom? Wat beteken Hy vir jou?
God is die rede waarom ek lewe. Hy is liefde en dis al wat tel. Hy is lief vir my en dis my krag en my kos. Ek het ’n pa waarmee ek alles kan deel en oor alles kan gesels. Ek vertrou op Hom vir alles. Sy liefde gee my krag om lief te hê en te vergewe.