As hierdie tekens bekend klink, besoek ’n endokrinoloog om dit te bevestig en jou te verwys na Vodder-terapie. Hierdie masseertegniek verskil van gewone limfdreinering en sal ni jou lipodeem vererger nie.
So lyk iemand met lipodeem
Mense met lipodeem lyk op ’n ander manier “vet” as ander oorgewig mense. As jy een van daardie mense is wat maklik in nommer tien-toppies inglip maar glad nie skinny jeans kan dra nie, het jy moontlik lipodeem. Hierdie soort vet klou om die onderlyf en bene. Lipodeem is dus meer as net groot heupe. As jy jouself in die spieël van bo na onder bekyk, sal jy tipies soos volg lyk, sê prof. Tess van der Merwe, endokrinoloog van Midrand.
1 Dit lyk asof jy ’n pofbroek aanhet
Jou middel- en bolyf is normaal, maar van jou naeltjie af onder toe is jy buitengewoon groot. Jy dra ’n broek wat twee en meer nommers groter is as jou bragrootte. Party mense ontwikkel tog lateraan limfedeem van die vetweefsel om die middellyf.
2 Jou bene is regaf en dik
As jou bene jou aan twee stewige boomstompe laat dink, is dit nog ’n teken van lipodeem. Buiten blokbene het jy moontlik ook ’n vetrolletjie bokant jou knie en kuiltjies op die bobene, wat soos selluliet lyk. Jy kan nie broeke met smal pype soos skinny jeans en sigaretpypbroeke of lang stewels dra nie.
3 Jou voete is fyn en skraal
Een van die opvallendste kenmerke van lipodeem is dat jou voete fyn, skraal en selfs klein is in vergelyking met jou stewige onderlyf en swaar bene. Tog, met gevorderde limfedeem van die vetweefsel swel die voete ook mettertyd.
4 Jou enkels is so blokkerig soos jou kuite
Waar ander mense se enkels duidelik smaller as hul kuite is, loop joune regaf ondertoe. Enkels is normaalweg benerig maar joune is vlesig.
5 Daar is ’n voutjie of rolletjie net bokant jou voet
Kyk hoe jou enkel by jou voet aansluit: het jy ’n voutjie of vetrolletjie net bo jou voet? Gewoonlik loop die tipies skraal, benerige enkel sonder enige ekstra weefsel oor in die ewe benerige enkel.
6 Jy het lemoenskil-vel op jou bobene
Kyk weer na jou bobene: sien jy duikies en kuiltjies oraloor? Met ander woorde, dit wat ander mense selluliet noem? Lyk jou bene soos opgestopte worsies?
7 Jou arms lyk normaal
Kyk na jou arms. Jy het min of geen vet op jou bo-arms nie. As jy ouer is en jou lipodeem reeds ver gevorder het, kan jy wel lipodeem van die arms ontwikkel. Net soos jou voete skraal is, sal jou hande ook skraal wees, met ’n voutjie of vetrolletjie tussen jou pols en hand.
Kry mans ook lipodeem?
Liopodeem is nie eksklusief aan vroue nie. Mans kan ook lipodeem ontwikkel. Dit is net nie so algemeen onder mans as vroue nie.