7 Bekostigbare aandetes met bestanddele wat reeds in jou spens is Deur Vickie de Beer. Foto’s deur Johan Wilke
Spaarsamig en smullekker
Al het jy net ’n pakkie aartappels in die groenterak, eiers, melk en kaas in die yskas en ’n pakkie spek in die vrieskas, kan jy steeds smaaklike etes opdis.
Hier en daar het ons ’n paar vars blare of kersietamaties bygvoeg om kleur te gee maar dis nie eens nodig nie, want met net vyf basiese bestanddele kan jy en jou mense soos konings eet.
Lees ook: 9 blink planne met blikkieskos
1. Aartappeltert
Hierdie is meer soos ’n aartappelkoek. Dis ’n ete op sy eie, maar is ook baie lekker saam met braaivleis. ’n Kleinerige losboomkoekpan sal die uithaalslag vergemaklik, maar dit keer redelik maklik uit as jy ’n gewone koekpan met bakpapier uitvoer.
2. Aartappelgebak met gekaramelliseerde uie
Hierdie aartappelgebak is heerlik as bygereg by geskroeide steak. Maak daarvan ’n aandete met bros gebraaide spek tussen die lagies en sit saam met ’n kraakvars tuinslaai voor.
3. Spek-en-eier-pasta
Dit is een van my staatmakers, aandete is op die tafel sodra die pasta gekook is.
4. Aartappelrösti met geposjeerde eiers
Rösti is heerlik krakerig en soutig. Dis ’n lekker bygereg en heerlik saam met ontbyt, of sit dit as voorgereg saam met delikate aspersies voor.
5. Sampioen-en-spek-pasteitjies
Ek het ’n oorskietpasteitjie die volgende aand deurgeroer tot alles gemeng was, opgewarm en as bygereg saam met steak voorgesit en dit was heerlik.
6. Eier-en-aartappel-gebak
Hierdie eiergebak werk goed as ontbyt, maar is net so lekker vir aandete. Jy kan die resep maklik vergroot tot 8 eiers vir 8 mense as jy ’n lekker groot oondpan het.
7. Geroosterde aartappel-en-spek-slaai
Ek is mal oor ’n geposjeerde eier maar as dit na te veel werk klink, kan jy die eiers net sag kook, afdop en in kwarte in die slaai sit.