1 Wat is jou gunstelingwintergereg?
Ek maak graag vir my gesin stadig gekookte biefghoelasj met my ma se kluitjies. Regte onthoukos!
2 Wat is jou lekkerste tydverdryf in die winter?
As ek ’n kansie kry tussen die kinders deur, is dit my lekkerste bederf om met ’n boek voor ’n kaggel op te krul.
3 Die hoogtepunte in jou lewe?
My kinders! Dit is so ’n wonderlike ervaring en watter voorreg is dit nie om jong lewens te help vorm om môre se leiers te word nie. Om Siba’s Table op Food Network aan te bied het sekerlik die grootste impak op my lewe gehad. Ek kan dit nou nog nie glo dat 60 miljoen mense wêreldwyd na my program kyk nie. Die program word van Amerika en Asië tot Australië, Europa en Afrika uitgesaai.
4 Wie is jou gunstelingkospersoonlikheid?
Jamie Oliver, natuurlik! Ek is mal daaroor dat hy nie net ’n goeie sjef is nie, maar ook teruggee en ander ophef en help om hul lewe te verbeter.
5 Watse raad gee jy vir jong vroue met groot drome?
Moenie jouself uit jou drome kul omdat jy te bang is om te probeer nie! As jy nie probeer nie, sal jy nooit weet waartoe jy in staat is nie.