1. Oorwas
Om jou gesig te was is goed, maar om dit meer as twee keer per dag te doen, is nié. As jy jou gesig te veel was, kan jy jou vel uitdroog. As jy soggens oefen: was jou gesig slegs met water voor gim en was dit dan eerder ná oefening met ’n middel. As jy saans oefen: probeer om nie grimering aan te wend nadat jy geoefen het nie; sodoende is jou gesig sommer klaar skoon en gereed vir nagroom.
Lees ook: Wenke om die lewe met sensitiewe vel ‘n bietjie makliker te maak
2. Te veel alkohol, suiker en kaffeïen
Stadig met alles wat te lekker is. Het jy al die oggend ná ’n partytjie in die spieël gekyk en gehoop jy verbeel jou dat jou plooie erger lyk? Die slegte nuus is dat jou plooie wel meer sigbaar is, want alkohol dehidreer jou vel en soos jy, is jou vel ook dors. Wissel dus maar gereeld deur die aand ’n alkoholiese drankie met ’n glas water af. Probeer ook om slegs twee koppies koffie per dag te drink aangesien dit ook jou vel kan dehidreer; probeer om eerder ’n koppie rooibostee tussenin te drink. Suiker breek die elastien en kolageen in jou vel af en kan jou vel vaal en plooierig laat lyk.
3. Rook
Rook is nie net sleg vir jou gesondheid nie, maar ook vir jou vel. Rook breek elastiese vesels in jou vel af (daarom lyk rokers altyd gelerig) en breek ook kollageen af, wat veroorsaak dat jy meer plooie kry.
Lees ook: Hoe rook jou vel beïnvloed
4. Smeer jou sonroom mis
Dis baie goed om daagliks sonroom aan te smeer, maar ons is geneig om sommige dele mis te smeer, of van te vergeet! Veral by jou haarlyn, jou ore en jou ken en nek … Dit veroorsaak nie net veroudering nie, maar dokters ontdek meer en meer kanker op hierdie dele.
5. Slaap te min
Daar steek inderdaad waarheid agter die woord: skoonheidslapie. Te min slaap kan jou vel vaal en dof laat lyk. Moenie televisie kyk, op jou foon, tablet of skootrekenaar werk net voor jy wil slaap nie. Die helder skerms onderdruk die vorming van melatonien (die hormoon wat ons laat vaak voel en ons slaapritmes beheer). As jou slaapritme versteur word, kan jou vel homself nie so goed vernuwe nie en dit kan lei tot meer plooie en vaalheid. Neem eerder ’n warm bad en lees ’n paar bladsye van jou gunstelingboek of jou rooi rose!
Lees ook: Hier’s die regte volgorde waarin jy jou velsorgprodukte moet aanwend