Hier is ’n staatmaker. Dit hou vir byna 2 weke in die yskas, en jy hoef net elke keer ’n paar skyfies af te sny. Sit aan die einde van ’n lekker ete met sterk koffie en ’n teugie brandewyn voor - of draai mooi toe en gee die rolletjie as ’n geskenk.
• 100 g (1 blok) donkersjokolade, gekap
• 180 ml (¾ k) gedroogde vye
• 60 ml (¼ k) dadels, ontpit
• 30 ml (2 e) brandewyn
• 140 ml (½ k + 1 e) pistasieneute, gekap
• 60 ml (¼ k) sagte plomp, droëperskes, fyn gekap
• 10 ml (2 t) fyn kaneel
• 3 ml (½ t) fyn steranys (maak steranyspeule fyn met ’n stamper en vysel)
• 1 ryspapiervel
Espressekoekies
Maak 36 koekies
Dis nogal ’n stywe deeg en spuit nie maklik nie. Jy kan andersins teelepels vol van die mengsel op die bakplaat skep. Die koekie het ’n heerlike brosbrood-tekstuur, maar is nie baie soet nie en dalk eerder vir grootmense. Sit voor met sterk koffie of ’n lekker likeur.
• 500 ml (2 k) koekmeel
• 60 ml (¼ k) mielieblom (maizena)
• 265 ml (1 k + 1 e) sagte botter
• 80 ml (1⁄3 k) sagte bruinsuiker
• 80 ml (1⁄3 k) goeie kitskoffie
• Koffiebone om mee te versier
Hawermoutkoekies met sjokoladesplinters
Maak 24 groot koekies
Ek gaan vanjaar hierdie koekies vir ons vakansiekoekblikke bak. Die hawermout verlaag die GI van die koekies sodat dit heilsame happies vir die kinders is. Jy kan die koekies kleiner maak, maar my kinders is mal oor die reuse-koekies.
• 250 ml (1 k) sagte botter
• 250 ml (1 k) sagte bruinsuiker
• 2 eiers
• 8 ml (½ e) vanieljegeursel
• 3 ml (½ t) koeksoda
• knypie sout
• 250 ml (1 k) koekmeel
• 560 ml (2¼ k) hawermout
• 375 ml (1½ k) fyn klapper
• 350 g (3½ blokke) donkersjokolade, fyn gekap
• 180 ml (¾ k) heel amandels skil en al, gekap
Speserysterre
Maak 70 koekies
Al die geure van Kersfees in een koekie. Die gouestroop maak die koekies effens taai maar lekker!
• 125 ml (½ k) botter
• 60 ml (¼ k) melk
• 375 ml (1½ k) gouestroop
• 10 ml (2 t) koeksoda
• 60 ml (¼ k) mielieblom (Maizena)
• 750 ml (3 k) koekmeel
• 10 ml (2 t) gemengde speserye
• 5 ml (1 t) fyn kardemom (opsioneel)
• 5 ml (1 t) fyn gemmer
• 300 g (3 blokke) donkersjokolade om die koekies in te doop
Smelt-in-die-mond-koekies
Maak 30 koekies
Die allerlekkerste sjokoladekoekies!
• 500 ml (2 k) koekmeel
• 80 ml (1⁄3 k) kakao
• 3 ml (½ t) bakpoeier
• knypie sout
• 250 ml (1 k) sagte botter
• 125 ml (½ k) suiker
• 1 eier
• 5 ml (1 t) vanieljegeursel
• 150 g (1½ blok) donkersjokolade, fyn gekap
• 125 ml (½ k) gevlokte amandels, fyn gekap
• Versiersuiker om oor te strooi
Instructions
Vye-sjokolade-en-neute-rol
Voorverhit die oond tot 180 °C. 1 Smelt die sjokolade vir ’n paar sekondes in ’n diep mikrogolfvaste bak in die mikrogolf op die ontvriesstelling. 2 Meng die vye, dadels en brandewyn goed in ’n voedselverwerker. 3 Meng die pistasieneute, perskes, kaneel en steranys deur die vyemengsel. 4 Meng die vyemengsel en sjokolade. Rol die mengsel in die ryspapier op en verkoel vir 6 uur of oornag. 5 Sny in dun skyfies en sit met sterk koffie voor.
Espressekoekies
Voorverhit die oond tot 160 °C 1 Voer ’n bakplaat met silikoon of bakpapier uit. 2 Sif die koekmeel en mielieblom saam in ’n groot mengbak. 3 Room die botter en suiker tot lig en donsig. Meng die koffie deur. Meng dan die meel by. 4 Skep die deeg in ’n spuitsak met ’n 2 cm-stertuit. Spuit koekies van 4,5 cm sowat 2 cm uit mekaar op die bakplaat. 5 Druk ’n koffieboon liggies bo-op elke koekie en sit vir sowat 2 uur in die yskas. 6 Bak vir 25 Min. tot gaar. Draai die bakplaat ná 15 min. sodat die koekies eweredig bak. Laat heeltemal afkoel op die bakplaat.
Hawermoutkoekies met sjokoladesplinters
Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met silikoon of bakpapier uit. 1 Room die botter en suiker tot lig en donsig. Voeg die eiers een vir een by en meng goed. Meng die vanielje, koeksoda en sout by. 2 Meng die meel, hawermout, klapper, sjokolade en amandels by die eiermengsel. 3 Skep ¼ k grootte balletjies 2 cm uit mekaar op die bakplaat en druk plat tot 1 cm dik. 4 Bak vir 15-20 min. tot Goudbruin. Draai die bakplaat ná 10 min. om. Laat effens afkoel op die bakplaat en tel dan op afkoelrakkies oor. Laat heeltemal afkoel.
Speserysterre
1 Verhit die botter, melk en gouestroop in ’n groot pan oor matige hitte tot die botter gesmelt is en die bestanddele goed gemeng. Meng die koeksoda by. 2 Sif die mielieblom, koekmeel en al die speserye saam. Gooi die bottermengsel geleidelik daarby. Bedek met kleefplastiek en laat staan vir 1 ½ uur. 3 Voorverhit die oond tot 180 °C. 4 Verdeel die deeg in kwarte en rol ’n kwart op ’n slag op ’n meelbestrooide werkvlak uit tot 1 cm dik. 5 Druk met ’n 6 cm-sterretjie-koekiedrukker sterretjies uit die deeg. 6 Bak vir 12-15 min. tot gaar. Draai die bakplaat ná 6 min. sodat die koekies eweredig bak. Laat effens afkoel op die bakplaat en tel dan op afkoelrakkies oor. Laat heeltemal afkoel. 7 Smelt die sjokolade in ’n diep mikrogolfvaste bak in die mikrogolf op die ontvriesstelling. Doop die helfte van die koekies in die sjokolade en laat op bakpapier set.
Smelt-in-die-mond-koekies
Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met silikoon- of bakpapier uit. 1 Sif die koekmeel, kakao, bakpoeier en sout saam in ’n groot mengbak. 2 Room die botter en suiker saam tot lig en donsig. Voeg die eier en vanielje by en meng goed. 3 Meng die meel by die eiermengsel. Meng dan die sjokolade en amandels by. Bedek die deeg met kleefplastiek en sit vir 30 min. in die yskas. 4 Rol die deeg in eetlepelgrootte balletjies en pak 1 cm uit mekaar op die bakplaat. Druk effens platter en sif versiersuiker oor. 5 Bak vir 10-12 min. tot gaar en die bokante effens kraak. Draai die bakplaat ná 6 min. sodat die koekies eweredig bak. Laat eers effens afkoel op die bakplaat en tel dan op afkoelrakkies oor. Laat heeltemal afkoel. 6 Sif weer versiersuiker oor.