kategorieë: Leef gesondGesondheid

25 lekker saamdoendinge vir familielede met demensie

25 lekker saamdoendinge vir familielede met demensie deur Salomé Delport. Foto:Piksel/iStock images

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Kuier lekker saam

Jy het altyd by Ma gaan uitspan vir ’n allersalige vakansie. Maar die rolle het omgeruil en nou kom Ma by jóú vakansie hou.

Natuurlik sien jy uit daarna. Maar wat as sy (of Pa) nie meer so helder is nie? Hoe kan jy jou bejaarde ouer met liefde toevou en ’n verrykende vakansie-ervaring vir die hele gesin skep?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hier is 25 idees. Hulle is almal gegrond op navorsing en praktiese wenke van die LiveWell Suites wat in versorging van bejaardes met demensie spesialiseer.

Dit is so dat bejaardes baie algemeen sukkel met depressie, verveling en gevoelens van nutteloosheid en sinloosheid. Dit lei tot irritasie en frustrasie.

Die oplossing? Navorsing wys dat die bevredigendste aktiwiteite interaksie (engagement) en stimulasie meebring.

Die beste aktiwiteite is meestal in ooreenstemming met sy/haar persoonlikheid en voorkeure. Waarop was sy vantevore dol? As dit reis, musiek of haar werk was, soek YouTube-video’s, boeke of TV-programme wat daarby aansluit.

Neem ook haar vermoëns in ag. As haar handbeheer nie meer goed is nie, maak dit nie sin om haar te vra om die wortels te rasper nie.

Onthou:

  • Dit moenie soos werk voel nie. Hou dit gesellig en ontspanne.
  • As jy met ’n nuwe idee vorendag kom, stel dit eers rustig bekend. Gesels daaroor en wys hoe dit werk.
  • ’n Aktiwiteit duur so lank as wat die bejaarde dit geniet.
  • Moenie hom/haar met jou geesdrif en lewenslus oorweldig nie. Beplan vooruit … en geniet ook maar net sommer mekaar se teenwoordigheid.

Belangrik: Julle hoef ook nie heeltyd besig te wees nie. Soms is sommer net saamsit oorgenoeg.

Dieselfde ou storie

Dieselfde ou storie … dieselfde ou storie …

Dit verg lateraan geduld om kalm en liefdevol te bly klink! LiveWell Suites het raad:

  • Reageer op die onderliggende emosie.
    Hy/sy is dalk angstig of bang. Antwoord, en gee hom ’n drukkie of vryf sy hand.
  • Hou die antwoorde kort en eenvoudig.
    Lang verduidelikings kan verwarrend wees. Dit spaar ook jou energie en geduld.
  • Trek die aandag af.
    As iemand “vashaak” kyk watter een van die bogenoemde aktiwiteite is geskik. Of vra ’n eenvoudige vraag, soos oor die weer of familie, om sy/haar gedagtes ’n ander fokus te gee.
  • Help met herinneringe.
    Baie keer vertel iemand ’n storie oor en oor juis omdat dit vir hom groot betekenis het. ’n Album of plakboek wat die herinnering uitbeeld of uitbrei, kan help.
  • Praktiese hulpmiddels.
    As hy elke vyf minute vra hoe laat dit is, kry ’n groot muurhorlosie. As hy kort-kort wil weet wanneer iets moet gebeur, trek ’n rooi streep op die horlosie sodat hy kan sien wanneer dit tyd is.
  • Ontspan.
    Jy is ook maar net mens! Sorg dat jý gestimuleer word en genoeg ontspan sodat jy vars bly.

25 lekker saamdoendinge vir familielede met demensie

  1. Help kos maak
    Die meeste mense voel nuttig as hulle help met kos voorsit. Dink aan groente kap, brood sny, eiers bak, slaai maak, tafel dek, servette uithaal of kos dophou sodat dit nie aanbrand of oorkook nie.
    Loer hier vir die lekkerste resepte
  2. YouTube-video’s en TV-programme oor ’n voorliefde, soos katte, tuine, natuurlewe, kampering, die koninklikes … die opsies is oneindig.
  3. Podsendings
    rooi rose se vervolgverhale is heerlike pret. Jy kan dit maklik met jou selfoon luister – dit gebruik eintlik min data.
    Klik hier om sommer nou te begin luister
  4. Musiek – elke liewe mens het ’n gunsteling!
    Dink aan boeremusiek, dansmusiek, walse, klassieke musiek, jazz, Latino, ou Afrikaanse musiek, Russiese musiek, marse …
  5. Ou flieks
    Ou Afrikaanse flieks en sitkoms soos Nommer Asseblief en Mattewis en Meraai. (Wys dit asseblief weer vir ons, SABC!) Wat van die ou klassieke wenners, soos The Sound of Music, West Side Story, Gone with the Wind, Casablanca? En kyk saam na daardie wonderlike, romantiese ou stories.
  6. Kontak met ’n kat, hond of ander troeteldier
    Dink aan kos gee, hare borsel en speel soos bal vir ’n hond gooi. As julle nie een het nie, gaan kuier vir iemand met een, en neem ’n bederfkossie saam.
  7. Brei of hekel
    Koop wol en brei of hekel, in ooreenstemming met jou ma se vaardigheid.
    Loer hier vir pragtige brei- en hekelpatrone
  8. Handwerk
    Die moontlikhede is oneindig – krale ryg, Kersversierings maak, mosaïek, pophuisies maak met roomysstokkies of vuurhoutjies, glasverf …
    Loer hier vir lekker idees
  9. Kyk ou familiealbums deur
    En vra uit oor die ou dae en familieprestasies (en skandes!).
  10. ’n Ritueeltjie
    Die meeste mense geniet ’n vaste teetyd, koppie koffie op ’n sekere plek of ietsie met sononder. Dit gee die dag struktuur, en jy kan ’n bederfdingetjie inwerk.
  11. Gaan stap of ry ’n entjie.
  12. Maak kaartjies
    Dink aan naamkaartjies vir Kersfees. Maak dit meer kompleks of doodmaklik met stempels, gom, blinkertjies en plakkers.
  13. Bord- en kaartspeletjies.
    Lees hier hoekom bordspeletjies goed vir die hele gesin is
  14. Legkaarte.
  15. Blomme rangskik.
  16. Tuinwerk, soos die potplante water gee, blomme pluk en ou blare uitknip.
  17. Inkleur
    Daar is lieflike inkleurbloeke vir volwassenes, vir alle vlakke van vaardigheid.
  18. Wasgoed help sorteer en opvou.
    Skoon wasgoed ruik heerlik!
  19. Vra die kinders, kleinkinders en ander familie om geselsvideo’s te stuur. Gooi dit op die TV-skerm en kyk dit (weer en weer!)
  20. Stel ’n familiestamboom op, of gesels daaroor.
  21. Maak ’n familiespogboek – van die kleinkinders, van al die sorgvuldig bewaarde koerantknipsels oor familieprestasies, of van enige onderwerp wat hom/haar fassineer.
  22. Hou ’n weerdagboek en vergelyk die gegewens met ’n week of ’n jaar gelede (al die inligting is op die Internet beskikbaar; jy kan jou eie gevolgtrekkings daarop grond).
  23. Plant iets – ’n potplant, saailinge, dalk ’n gunstelingboom.
  24. Hou “speelgoed” byderhand – soos ’n stresbal, tydskrifte om deur te blaai en die TV se afstandbeheer.
  25. Maak ’n herinneringsboks – vra hom/haar om elke dag iets by te sit wat die dag gedenk. Of vra haar/hom om gunstelingresepte daarin te plaas. Of wat van staaltjies of lewenswyshede neerskryf en daarin sit?
Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Kry weer woema in die winter

As die winter jou vaal en verlep laat voel, is dit tyd vir ’n lekker…

2 hours Gelede

Sagte rogbrood

Bak hierdie lieflike en geurige brood en vul jou huis met die hartverwarmende geur van…

2 hours Gelede

5 maniere om meer selfvertroue te hê

Ons wil almal die soort vrou wees wat ’n kamer binnestap en selfvertroue uitstraal. Gebruik…

20 hours Gelede

‘n Velsorggids vir elke ouderdom

Soos ‘n mens ouer word, raak dit moeiliker om die sigbare tekens van elke verbygaande…

21 hours Gelede

Karamelspringmielies-en-mout-koekies

Gebruik ons resep vir basiese soetkoekies en maak hierdie lieflike karamelspringmielies-en-mout-koekies. Die koekieblik sal nie…

24 hours Gelede

Vanaand op ‘Een keer om die son’

Een keer om die son, volg die lief en leed van een familie oor die…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.