15 vrae aan De Klerk Oelofse deur Zoë Salzwedel. Hooffoto: Petri Schoeman (Op die stel van Hotel)
Jy herken hom dalk as Lourens Marais, die hakkelende speurder van Merweville. Of liewer Boer Jaap wat week na week Jony, die Fransenburg Hotel se ontvangsdame, se hart probeer verower. Miskien dalk dan eerder Tyrone Pieterse van Sara Se Geheim … Maar een ding weet ons beslis: De Klerk Oelofse is ’n man van vele talente!
De Klerk Oelofse is deesdae ’n bekende naam in die televisie-, film-, radio- en teaterbedryf. Met meer as 40 rolle in die onderskeie bedrywe, talle toekennings en benoemings agter sy naam en ’n passie vir toneelspel, is dit moeilik om nie van De Klerk kennis te neem nie.
“Ek vermoed toneelspel was nog altyd in my gene.”
Van die talle toekennings wat hy al ontvang het en voor genomineer is, is onder andere die Fleur du Cap Teatertoekenning vir Beste Ondersteunende Akteur in ’n musiekproduksie vir Liewe Heksie: Flower Power (genomineer in 2016) asook die ABSA Kanna-toekenning by die KKNK vir dié rol, die KykNET Fiësta-toekenning vir die beste solo optrede in 2015 in Na-aap (genomineer), die Clover Aardklop toekenning vir beste akteur in 2014 vir Na-aap, die US Dramadepartement se beste akteurtoekenning 2009 (wenner) en 2014 (genomineer).
In 2011 het hy die Fleur du Cap Teatertoekenning as mees belowende student gewen en in 2014 die Naledi Teatertoekenning vir Balbesit. Hy het ook vir Balbesit die ABSA KKNK-toekenning vir beste akteur in 2013 ontvang. Meer onlangs is De Klerk genomineer vir drie KykNet Fiësta-toekennings, ’n US Woordfees Woordtrofee, nog ’n KKNK Kanna-toekenning en ’n ATKV Mediaveertjie waarvan hy die KykNet Fiësta-toekenning gekry het vir beste ensemble in Nêrens, Noord-Kaap en ’n ATKV Mediaveertjie vir die beste akteur in ’n drama vir sy rol in Die Boekklub (Albei in 2018).
Ons het besluit om ’n bietjie met De Klerk te gesels oor sy lewe in die kollig en alles wat akteur-wees lekker maak!
1. Op watter ouderdom het jy jou liefde vir toneelspel ontdek?
Ek vermoed toneelspel was nog altyd in my gene. Hoewel beide my ouers in die onderwys was, het hulle lank na hulle afstudeer het nog amateurteater en opvoerings gedoen – veral toe hulle nog in Klerksdorp gewoon het. Ek en my suster Henriëtte (31) het ook graag jaarlikse Kerskonserte vir ons gesin gehou. Ons het ook gereeld by my niggie en nefie op die plaas buite Kameel in die Noord-Wes ons eie klein tuisgemaakte films geskiet. So ja, ek dink dit is iets wat al my hele lewe lank saam met my kom.
2. Was akteur-wees nog altyd jou eerste keuse, of wou jy dalk op ’n stadium in jou lewe iets anders doen?
Ag, soos enige seuntjie het ek ook aanvanklik drome gehad van ’n sportster word, ek was veral lief vir krieket. Selfs as ek teen myself krieket in die agterplaas gespeel het, het die onderhoude wat ek na die wedstryd met myself gevoer het, tog altyd ’n bietjie meer tyd as die krieket opgeneem. Ek moes seker toe al besef het dat dít ’n teken was dat ek dit geniet het om in ander se skoene te klim en vir ’n oomblik iemand anders te wees.
Op hoërskool het my kop so ’n bietjie na argitektuur se kant toe begin staan, maar ek was nie lief genoeg vir wiskunde om dit werklik na te jaag nie.
Daarna wou ek natuurlik ’n rockstar word! Ek het in ’n paar bands gespeel en my plan om BCom Logistieke Bestuur op Stellenbosch te gaan swot, was eintlik maar net ’n manier om in die Kaap te kom sodat ek my eie band daar kon begin.
Ek het egter in matriek my pa oorreed dat ek drama wou studeer en het my aansoek by die universiteit aangepas. Toe ek na my oudisie by die universiteit inkom en uiteindelik met die dramakursus begin, het dit my heeltemal ingesuig. Die rockstar-planne was iets van die verlede en ek het al my fokus op my kursus gerig.
Dit is interessant hoe ’n mens skielik kan presteer die oomblik wat jy iets doen waarin jy regtig belangstel. Op skool was ek nie akademies baie sterk of gemotiveerd nie, maar die oomblik toe ek iets studeer waarin ek werklik belangstel, het ek onder die top 10% akademiese presteerders by die universiteit beland.
View this post on Instagram
Foto deur Robert Hamblin
3. Was daar ’n spesifieke oomblik of ervaring wat jou laat besef het dat jy ’n akteur wou word?
Soos ek sê, dit was eintlik maar iets wat nog my hele lewe lank al saam met my kom. Ek dink egter toe ek in 2006 Marthinus Basson se Boks met Neels van Jaarsveld en Quintin Krog en Slaghuis (ook deur Marthinus) op Aardklop gesien het, het ek geweet dat dít is wat ek wil doen en by wie ek moet gaan leer hoe om dit te doen.
4. Vertel ons meer oor jou heel eerste rol
Op laerskool het ek “Kleine Duimpie” in die skoolkonsert gespeel. Ek het ook later in die kerk se passiespele een van die dissipels gespeel.
My eerste rol op universiteit was die rol van Hamlet in die departementele produksie van Hamlet. Dit was nogal ’n angswekkende ervaring vir ‘n 19-jarige laaitie van Polokwane, wat pas begin het om Engels te verstaan, om só ‘n grootse rol aan te pak.
5. Waarvan hou jy meer: Film, TV of teater?
Ek is opgelei in teater en daarom sal dit seker altyd my eerste liefde bly. So onseker en bang soos wat elke nuwe teaterprojek my maak, is en bly dit ’n proses wat ek ken en verstaan. Maar ek geniet natuurlik ook TV en Film – elke medium het sy eie uitdagings en ek hanteer elkeen as ’n ander dissipline.
6. Jy het ’n honneursgraad in drama en ’n hele rits toekennings agter jou naam … Maar wat is in jou opinie een van die belangrikste dinge wat ’n akteur moet hê, kan doen of moet weet?
Hulle sê dat die gemiddelde persoon tussen 12 en 15 keer in ’n leeftyd by ’n werk aangestel word. Ek dink akteurs gaan vir omtrent dubbel soveel oudisies in ’n jaar, waarvan ’n mens dikwels nie een rol kry nie. As jy dan oudisies met werksonderhoude vergelyk, word akteurs konstant met verwerping gekonfronteer. ’n Mens moet dus vroeg leer om jou velletjie so bietjie aan te dik en te besef dat die rolle wat jy nie kry nie, dikwels nie te doen het met jou vermoëns nie, maar dat verskeie ander faktore ook ’n rol speel.
Daar is ook periodes tussen projekte waar ’n mens vir lang tye by die huis sit met niks om te doen nie. Dit is belangrik om in daardie tye jouself besig te hou en nuwe vaardighede aan te leer om die inhoud van jou “acting toolbox” so ’n bietjie aan te vul.
7. Wie is jou inspirasie, en hoekom?
Ek vind die mense saam met wie ek werk inspirerend. Dit is altyd ’n leerskool om te sien hoe elke persoon aan dit wat jy op papier (die teks) gelees het, lewe gee. Elkeen het ’n ander proses en daar is nie noodwendig ’n reg of ’n verkeerd nie, maar eerder ’n manier van doen wat vir ’n spesifieke individu werk.
8. In jou loopbaan tot dusver, watter rol was vir jou nog die moeilikste gewees? En uit watter produksie het jy die meeste geleer?
Ek kan nie eintlik een uitsonder nie. Dis seker cliché, maar daar is nie maklike rolle nie!
Elke rol het sy uitdagings en sy eie stel reëls binne die projek waarmee jy besig is. Uiteraard is daar rolle wat meer van jou verg, hetsy fisies of emosioneel, maar op die ou einde wil ’n mens net reg laat geskied aan die storie wat jy vertel – dis die heel belangrikste.
9. Wat geniet jy om in jou vrye tyd te doen?
Ek geniet dit om in my klein tuintjie in Kaapstad rond te speel. Daar is iets baie ontspannend daaraan om vir ’n ruk lank jou hande in die grond te druk.
Ek was verlede jaar ook gelukkig genoeg om op toer te gaan en groot dele van ons land te sien. Dit is iets wat ek nou graag meer in my vrye tyd sal wil aanpak, om meer van ons land te verken.
10. Wat is jou gunstelingflieks?
The General (1926)
Amélie (2001)
Y Tu Mamá También (2001)
Roma (2018)
Inside Out (2015)
11. Enige opkomende rolle waarna ons kan uitsien vir 2019?
Ek begin binnekort skiet aan ’n kameerol vir die tweede seisoen van Fynskrif – en is baie opgewonde daaroor!
Ons is aan die skryf aan die vierde seisoen vir Hotel wat ons dan ook later vanjaar gaan verfilm.
Ek maak ’n draai in die nuwe kykNET-reeks, Spreeus, wat ek dink ’n baie cool reeks gaan wees en dan maak ek ook ’n verskyning in die tweede reeks van Die Byl wat later vanjaar uitgesaai word.
12. Wat is jou grootste teater- of televisiedroom?
Sjoe, daar is só baie! Op die oomblik is my grootste droom om vir die teaterstuk wat ek vervaardig het, Babbelagtig, ’n speelvak in Kaapstad te beding. Dit is so ’n unieke stukkie teater vir ons land, omdat “clowning” (of dan nou narrespel) nie hier so ’n bekende kunsvorm is nie. Die produksie is gemaak vir alle gehore, ongeag taal, ras of ouderdom en daarom sal dit vir my heerlik wees om te sien hoe dit in Kaapstad vaar.
13. Ons moet jou komplimenteer op die uitstekende manier waarop jy ’n spraakafwyking kan vervolmaak. Jy moes vir jou rol in Die Boekklub hakkel, en jou karakter (Jaap) in Hotel het gebrei. Was dit vir jou moeilik om dit aan te leer en te vervolmaak?
Ek is altyd bang om net iets op te maak. Veral met ’n spraakafwyking wil ’n mens baie versigtig wees, sodat dit nie lyk of jy iemand opstuur of spot nie. Ek baseer dus dié afwykings op iets wat ek ken.
Ek het ’n goeie koshuispel van my wat self hakkel afgeneem en onderhoude met hom gevoer om te probeer verstaan hoe ’n hakkel werk en wat die oorsprong van so iets sou wees. Ek het Lourens van Die Boekklub se hakkel op syne baseer. Hoewel daar verskeie maniere van hakkel is, wou ek bly by iets wat ek ken.
Met Jaap het ek toevallig net voor ek aan Hotel begin skiet het, ’n bietjie tyd in die Noord-Kaap deurgebring en dít opsigself het ’n groot rol gespeel in Jaap se aksent en brei. Ek het ’n goeie vriend wat in die Noord-Kaap woon en hy bederf my gereeld terwyl ek skiet aan Hotel met voice notes van die boere wat om hom boer. Op hierdie manier hoor ek gereeld die aksent (en brei) en kry ek fantastiese kwinkslae om by die rol in te werk.
’n Mens moet egter die werk insit sodat hierdie afwykings nie aangeplak klink nie, maar bloot deel is van die karakter se menswees.
14. Volgens jou CV kan jy ’n hele paar aksente naboots insluitend ’n Ierse en ’n Britse aksent. Kon jy nog altyd lekker en maklik verskillende aksente naboots, of moes jy byvoorbeeld al dié aksente aanleer en beoefen?
Op universiteit het ons aksentklasse as deel van ons kursus gehad, so dis maar waar ek meeste van hulle moes aanleer. Ek is egter ’n bietjie verroes met my aksentwerk omdat ek deesdae so min in Engels werk. Dit sal my dus ’n rukkie neem om nou een van daai aksente natuurlik te laat oorkom en te bemeester.
15. En laastens wil ons weet, wat geniet jy die meeste van toneelspel en jou lewe as akteur?
My mentor op universiteit, Marthinus Basson, het eenmaal in ’n onderhoud die lewe van akteurs en teatermakers vir my só mooi saamgevat: “Die wonderlike ding van teater is, ons is die enigste werklike tyd- en ruimtereisigers, want ons gaan in die verlede in, ons kan in die toekoms speel, en kan dieper op die menslike goed ingaan … Die hele wêreld is tot jou beskikking om vanuit te put. Ons werk mag individue op langtermyn ’n klein bietjie emosioneel knou en jou kan soms knieë ingee of jy mag dalk dalk ’n elmboog kraak as jy sleg val, maar die feit bly staan, ons kan ál die nagmerries, ál die oorloë, ál die walglikste aspekte van die mens aantrek en vir ’n tydjie onsself daarmee verryk – met dit wat jy hopelik nooit hoef te wees nie – en dit weer ophang en wegpak … En in daai opsig is dit ’n wonderlike, wonderlike wêreld om in rond te speel.”
Volg gerus vir De Klerk op sosiale media: Instagram en twitter