Deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf deur Capital Singers, hooffoto Paulo Jorge Photography.
’n Massakoor wat hoendervleismusiek maak sonder dat enigeen ’n oudisie moes aflê of noodwendig kan bladlees? Dit klink onmoontlik, of hoe?
Tog is dit nie. Die Capital Singers, ’n unieke gemeenskapgerigte projek met hul hoofkwartier in Pretoria, trek die afgelope vier jaar steeds groter gehore en al meer deelnemers.
“Ons het in 2014 ons eerste uitvoering in die NG Kerk Universiteitsoord gehad met 140 sangers, en sedertdien het die projek ongelooflik vinnig gegroei. Die afgelope vier produksies was in die Staatsteater met 650 sangers. Vanaf Desember 2018 is ons nuwe tuiste die Sun Arena in Pretoria, waar ons ’n minimum van 1000 sangers gaan wees. Hierdie groei is die bewys dat die sangers elke noot en elke produksie geniet!”
Só vertel Christo Burger, stigter, regisseur en dirigent van die Capital Singers. Hy en die mede-dirigent, dr. Michael Barrett, maak geskiedenis met hierdie unieke konsep.
Lees ook: Sing, draf of kook saam met ander: Waarom groepsaktiwiteite goed is vir jou
Hoe word jy deel van die Capital Singers?
- Die enigste voorwaarde vir deelname is minstens een jaar se koorervaring.
- Die projek leef hoofsaaklik aanlyn. Jy registreer op www.capitalsingers.co.za as bas, tenoor, alt of sopraan en kry jou musiek ses tot agt weke voor elke optrede. Jy kry bladmusiek sowel as tracks wat jy op jou foon, tablet of rekenaar kan aflaai.
- Jy leer die musiek in jou eie tyd, in die motor of waar dit jou pas.
- Daarna kom alles binne vier tot ses dae bymekaar. Die koorlede trek in Pretoria saam vir die oefensessies en optredes.
- Slegs R460 per deelnemer dek alle kostes soos die huur van die venue, verwerkings, musiekregte, soliste, musikante en tydens die komende Kerskonsert ook ’n goodie bag.
- Elke inskrywing geld slegs vir een van die drie jaarlikse konserte in Mei, September en Desember. As jy een of meer konsert mis, kan jy ’n volgende keer weer inval. Elke optrede het ’n tema soos Walt Disney-fliekmusiek, musiek uit die jare tagtig of musiek uit spy movies. Die Kerskonserte in Desember is ’n instelling.
- Belangstellendes kan nog tot 23 November 2018 by www.capitalsingers.co.za inskryf vir die Kerskonsert.
Wie skryf in?
“Mense uit alle agtergronde,” sê Christo. “Die hoofdoel is om mense wat nie deel kan wees van permanente kore nie die kans te bied om drie maal per jaar aan ’n massiewe produksie deel te neem en ’n paar dae lank deur koorsang aan die alledaagse bestaan te ontsnap.”
“Dit word toenemend ’n geleentheid vir families om iets saam te doen. Mense vlieg in vanoor die hele land en selfs uit die buiteland.”
Meesleurende optredes …
As die koorlede nie oudisies hoef te doen nie en mekaar ’n paar dae voor ’n optrede die eerste keer ontmoet, hoe gebeur dit dat die optredes musikaal van so ’n hoë gehalte is?
Afgesien van die X-faktor – die byna tasbare opwinding en positiewe energie by elke optrede – is daar verskeie redes hiervoor. Eerstens is Christo en Michael albei ervare, internasionaal bekroonde dirigente (sien “Die manne agter die koor” hieronder). Daarby word die musiek noukeurig deur Christo Burger, Michael Barrett en Janine Neethling uit ’n wye verskeidenheid musiekstyle saamgestel en met die insae van regisseur Ian von Memerty verwerk.
“Die klem val op die koor, maar ons maak die koorsang mooi met uitstekende soliste en musikante,” sê Christo. “Dis die musikante se gunstelingprojekte – ons is self musikante en hanteer die musikante soos hulle behandel behoort te word. Die soliste geniet dit vreeslik om saam met die koor te werk.
“Die gehore geniet dit dat ons elke keer iets nuuts op die planke bring. Hulle hou van die humor en verrassingselemente wat ons inwerk, en natuurlik die goeie kwaliteit musiek en verwerkings.”
Kerskonsert 2018
“Ons gaan groot met ons Christmas Spectacular in Desember 2018. Nie net is dit ons eerste optrede met 1000 stemme nie, maar die show is regtig mooi – met baie van daardie spesiale oomblikke wanneer jy na ’n sakdoek soek, of iemand se hand wil vashou.”
“Dit vind plaas op om 7 nm op Woensdag 12 en Donderdag 13 Desember by die Sun Arena in Pretoria. Die soliste is Joshua na die Reën, Brandon October en Magdalene Minnaar. Die Jakaranda Kinderkoor tree ook op.”
“Ons is baie opgewonde want met elke kaartjie wat iemand koop, word GROOT fm 90.5 se welwillendheidsorganisasie HOOPstoot ondersteun. Só gee elkeen wat kom luister iets aan die gemeenskap terug.” (Besprekings by www.computicket.co.za)
Die manne agter die Capital Singers
Christo Burger
“Ek het my lewe lank koor gesing, en op universiteit besef ek wil dirigent word. Ek het talle kore gehad en in 2015 my Akustika Chamber Singers, ’n Pretoriase kamerkoor, gestig. Ek is ook dirigent van die Jakaranda Kinderkoor. My rolle as vervaardiger van die Capital Singers-projekte en musiekregisseur by die Atterbury teater het my met talentvolle Suid-Afrikaanse musici soos Coenie de Villiers, Joshua na die Reën, Leon Gropp en Anna Davel in aanraking gebring. Ek was ook beoordelaar by die gewilde kykNET-produksie Varsity Sing.”
Hoogtepunte uit Christo se loopbaan:
“Die Akustika Chamber Singers het ’n menige internasionale titels ingepalm, soos die gesogde Choir of the World-titel en die Pavarotti-trofee by die jaarlikse Llangollen Internasionale Koor-Eisteddfod in 2008. Op die wêreldranglys word Akustika tans as die tweede beste gemengde koor ter wêreld gelys. Ons het onlangs vyf goue medaljes by die Wêreldkoorspele in Tshwane verower, en is in die kategorie vir gewyde a cappella koormusiek as die wêreldkampioene aangewys.”
Michael Barrett
“Ek het my passie vir musiek en veral koorsang as lid van die Drakensbergse Seunskoor ontwikkel. By die Universiteit van Pretoria het ek BMus, MMus en DMus in die uitvoerende kunste voltooi met Sang en Koorleiding as my hoofvakke. Ek was by kore in Pretoria en later Rustenburg betrokke en het ook my eie kamerkoor, The Chamber Singers, gestig met die oog op my DMus konserte. My agt jaar as dirigent van die UP Jakaranda Kinderkoor was ’n hoogtepunt. Tans is ek dirigent van die wêreldberoemde Tuks Camerata en senior lektor by die Department van Musiek. Ek is ook ’n komponis, en van my koorwerke word deur Amerikaanse uitgewers gepubliseer. Ek bied koorwerkwinkels aan en is gereeld deel van navorsingsprojeke en beoordelaarspanele in die buiteland.”
Hoogtepunte uit Michael se loopbaan:
“Een van die grootste hoogtepunte was toe ek die pos as dirigent by die Universiteit van Pretoria gekry het. Ook toe die Camerata Kamerkoor in 2014 die Wêreld Koorspele in Letland gewen het, en in 2017 die Grand Prix. Daarby is Camerata drie keer na mekaar vir ’n SAMA-toekenning genomineer.
“Dan is daar my en Ralf Schmitt se komposisie, Indodana, wat al oor die 50 000 kopieë dwarsoor die wêreld verkoop het. Maar die grootste oomblik was sonder twyfel toe ek as lid van die Drakensberg Seunskoor vir Nelson Mandela bo-op die Drakensberge ontmoet het. Die hele koor is met helikopters opgevlieg, en hy het ons almal se hande geskud. Dit sal ek nooit vergeet nie.”
Wat is so spesiaal omtrent koorsing en koorleiding?
Christo: “Hoe jy vanaf bladmusiek, wat maar net simbole is op ’n stuk papier, gestalte kan gee aan klank wat die emosie teweegbring wat die komponis in gedagte gehad het. Daar is iets baie spesiaals omtrent mense wat saamsing.”
Michael: “Om mense se lewens deur koorsang te verander – even if it is only for a moment. Om mense aan die mooi in die wereld te herinner, want partykeer vergeet ons daarvan. En om te sien hoe veral die sangers die musiek geniet. It is healing!”
Wat kry julle elkeen uit julle werk met die Capital Singers?
Christo: “Ongelooflike vervulling. Soveel koorsangers kry trane in hulle oë terwyl hulle sing, en dit maak alles vir almal die moeite werd.”
Michael: “Ongelooflike plesier. Dit is net pret! Love elke oomblik!”
En waarop is julle regtig trots?
“Die feit dat mense saam met ons in ons visie glo.”