Die vierde seisoen van dié gewilde kykNET-dramareeks het Dinsdag 19 Julie 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin uitsaai.
Meer oor Izel se agtergrond:
Ek is in Pretoria gebore, maar het vir drie jaar op Middelburg gewoon voor ons Pretoria toe getrek het waar ek in Laerskool Hennopspark en Hoërskool Eldoraigne was. Ek is ’n laatlammetjie en my boetie is amper sewe jaar ouer as ek. My kinderjare was besig en vol geluk en mooi herinneringe. Ek was vier toe ek met ballet en drama begin het en was ook deur die jare betrokke by redenaars, moderne dans en enigiets kreatiefs. Ek het in graad 1 probeer netbal speel, maar vinnig besef dis nie vir my nie. Ek is baie bevoorreg om die ongelooflikste ouers te hê wat my altyd in alles ondersteun. My pa het vreeslik hard gewerk om vir my en my boetie die wonderlikste geleenthede te bied. My ma is my beste vriendin. Sy is die mens wat ek die meeste in hierdie wêreld vertrou. Ek kyk baie op na haar en hoop ek kan ook eendag so ’n sterk vrou wees. Ek is die mens wat ek vandag is as gevolg van alles wat ek by my ma en pa geleer het.
Lees nog: rooi rose gesels met die sprankelende TV-aanbieder Anzél Rabie
Ná skool
Ek het dadelik begin vryskut, maar het ook B.Com studeer. Ek het egter in die ekonomieklas gesit en toneelvideo’s kyk. Dis waar ek besef het, ek gaan baie gelukkiger wees as ek my drome najaag. Ek het my eerste jaar klaargemaak, by die hek uitgestap en nooit weer teruggekyk nie. My grootste droom was nog altyd om in New York te studeer en ek het dit in 2019 gedoen. Tussendeur het ek aan produksies gewerk, radiowerk gedoen en verskeie kursusse en privaat klasse gedoen. Ek dink dit is een van die beste dele van toneelspel; die feit dat daar altyd iets nuuts is wat jy kan leer of wat jy kan verbeter.
Eerste vertoning
My eerste professionele vertoning was ’n kinderteaterstuk, Balkie, wat by al die kunstefeeste opgevoer is. Ek was 11 jaar oud. My eerste fliek was ’n paar jaar later toe ek 14 was en die vroulike hoofrol in die film Agent 2000: Die Laksman gespeel het. Ek sal nooit my eerste dag op stel vergeet nie. Ek was so op my senuwees met duisende vlinders in my maag. Ek het gedink daardie gevoel gaan weggaan soos wat ek ouer raak en meer vertonings doen, maar dit word eintlik meer. Ek dink ek besef elke keer al hoe meer hoe ’n groot voorreg dit is om te kan doen waarvoor ek lief is. Ek kan ook myself meet teen die vorige produksie wat ek gedoen het en myself druk om elke keer beter te wees.
Ander rolle
Ek dink een van die flieks wat altyd baie na aan my hart sal wees, is Dis ek, Anna. Ek was 16 toe ek die rol van jong Anna vertolk het en dit was een van die stelle waarop ek die veiligste gevoel het. Dit was ‘n moeilike storie om te vertel, maar ons ongelooflike regisseur, Sara Blecher, het ons almal so mooi gelei en ek het bitter baie by al my mede-akteurs, veral by Morné Visser en Nicola Hanekom wat my ma en stiefpa gespeel het, geleer.
Dan was my karakter in die fliek Flatland seker een van die moeilikste karakters wat ek al vertolk het juis omdat sy presies die teenoorgestelde van myself is. Ek het nie eers geweet waar om te begin met voorbereiding nie en was vreeslik bang om dit te skiet. Maar buite ’n mens se gemaksone is wanneer jy altyd die meeste leer en groei. Ek het ook ’n onvergeetlike geleentheid gekry om Berlyn toe te gaan en Flatland se wêreldpremière by die Berlin International Film Festival by te woon.
Ek is ook mal oor radiowerk! Ek het laasjaar my eerste boekvoorlesing op RSG gedoen, en is nou al vir amper twee jaar deel van Leon Van Nierop se Hartebreker-span (RSG se radiodrama) waar ek die rol van Nicole speel. Ek is so dankbaar vir al hierdie wonderlike geleenthede wat ek al gekry het en die mense saam wie ek al kon werk.
Stokperdjies en ander talente
Ek is mal daaroor om nuwe resepte in die kombuis uit te toets en unieke verjaardagkoeke te bak. Een waarop ek nogal trots is, is ‘n koffiemasjien-koek waar daar regte koffie uit die “masjien” loop.
Ek hou daarvan om dinge mooi te maak en beplan om ’n groot reisjoernaal te maak van al die plekke waar ek al was, saam met spesiale aandenkings soos die vliegkaartjies, strokies, foto’s en pamflette wat ek oor die jare versamel het.
Ek hou ook baie van skryf en vang myself gereeld dagdroom oor verskillende stories en karakters wat ek nog graag eendag sal wil speel of vertel.
Gunstelinge
My grootste gunsteling is mac & cheese. Ek kan nie ’n dag gaan sonder om musiek te luister nie en my speellys is vol Afrikaanse, country- en hartseer liedjies. Ek is glad nie ’n leser nie, maar kan wel ’n hele lys opstel van my gunstelingflieks. Notting Hill (sal altyd hoog op die lysie wees) en kort op sy hakke is TheLight Between Oceans, Semi-Soet en Hacksaw Ridge.
Wat kan jy glad nie doen nie?
Ek is ’n introvert wanneer ek tussen ’n groot groep mense is, maar by mense waar ek gemaklik voel en wat ek ken, kan ek nie ophou babbel nie. My ma vertel altyd dat toe ek jonk was, het ek altyd aanhoudend in die kar gepraat. My ma het eendag vir my gesê: “Zeli, bly nou net bietjie stil asseblief dat ek kan konsentreer”, en ek het dadelik my ogies toegemaak, handjies bymekaar gesit ek gebid: “Liewe Jesus, maak asseblief dat my mamma vinnig weer sê dat ek mag praat”.
Waar sien jy jouself oor tien jaar?
Dis ’n moeilike vraag. Ek hoop dat ek oor tien jaar die beste weergawe van myself sal wees en dat ek nog baie drome gaan hê wat ek kan najaag. Ek het nou al geleer dat ’n mens altyd groot moet droom, want dit motiveer jou om hard te werk en daardie doelwitte te bereik. Ek sal graag my eie reekse/flieks wil skryf en vervaardig. Dit sal ook lekker wees om oor tien jaar gelukkig getroud te wees, met dalk ‘n kindjie of twee wat in die huis rondhardloop.
In dié stadium vat ek elke dag soos wat hy kom en bekommer ek nie te veel oor die toekoms nie. Ek weet die Here het vir my die mooiste pad uitgewerk en ek kan nie wag om dit te stap en te ontdek nie.
Enige Spoorloos-geheime?
Ek was baie bang vir water en het vir ’n swemles gegaan voor ons begin skiet het sodat ek nie angstig raak as daar dalk ’n toneel is waar ek my kop onder water moet sit nie. Ek kan wel sê dat ek nou darem my vrees so bietjie oorwin het.
Persoonlike lewe
Ek is mal daaroor om te toer en ander lande se kulture te ontdek. Ek slaap nou nog met ’n teddie en familie is vir my die belangrikste ding in die lewe.
Deur Ilza Roggeband
Foto’s: Verskaf
Lees nog: rooi rose gesels met Melissa Myburgh van Dinge van ’n kind